Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Tour: Nog glorie vir Van der Poel se span
Dankie! Tim Merlier het Maandag die derde skof van vanjaar se Tour de France gewen. Foto: AP

Die Belg Tim Merlier (Alpecin-Fenix) het Maandag die derde skof van die Tour de France gewen, grootliks danksy sy spanmaat Mathieu van der Poel, draer van die geel trui, wat hom in ’n perfekte posisie geplaas het om die glorie te verseker.

Merlier het die skof, oor 182,9 km tussen Lorient en Pontivy, in ’n naelrit na die eindstreep in 4 uur, 1 minuut en 28 sekondes voltooi.

Nog ’n spanmaat van die twee, Jasper Philipsen (België), was tweede gevolg deur Frankryk se Nacer Bouhanni (Arkéa-Samsic).

Van der Poel het die skof in die sewende plek voltooi en is steeds die algehele voorloper.

Vyf ryers, wat Switserland se Michael Schär (AG2R Citroën) ingesluit het, het vroeg in die skof weggebreek. Die groep ryers het op ’n stadium ’n voorsprong van meer as twee minute bo die peloton gehad.

Die wegbreekgroep het later na vier ryers verminder, nadat die Nederlander Ide Schelling (Bora-Hansgrohe) weer by die peloton aangesluit het.

Die wegbreekgroep het later na vier ryers verminder, nadat die Nederlander Ide Schelling (Bora-Hansgrohe) weer by die peloton aangesluit het.

Met sowat 60 km oor, was ryers van spanne soos Jumbo-Visma en Lotto-Soudal prominent vooraan die peloton en het hulle die tempo beheer. Lotto-Soudal het na die belange van hul naelryer, die Aussie Caleb Ewan, omgesien. Ewan is vooraf as die oorweldigende gunsteling beskou om die skof te wen.

Die groot vraag met sowat 30 km oor, was wanneer die wegbreekgroep ingekatrol sou word. Die groep van vier ryers se voorsprong bo die peloton was toe sowat 90 sekondes.

So erg het die wegbreekgroep probeer om weg te bly van die peloton, dat een van die viertal, die Fransman Maxime Chevalier (B&B Hotels), nie kon byhou nie en agtergelaat is. Toe was dit net ’n kwessie van tyd voordat die wegbreekgroep ingehaal is, wat toe ook sowat 5 km van die einde gebeur het.

Maandag was nie Primoz Roglic se beste dag nie. Foto: AP

Sowat 2 km van die einde het Van der Poel vooraan die peloton die pap dik aangemaak, wat glorie vir sy span help verseker het.

Dit was ’n dag waarop baie ryers geval het. Ewan het naby die eindstreep geval.

Die mees opspraakwekkende valslag van die dag was dié van die Sloween Primoz Roglic (Jumbo-Visma), wat sowat 10 km van die einde hard met die teer kennis gemaak het. Sy klere was stukkend en sy spanmaats het teruggeval om hom terug in die peloton te probeer kry. Roglic, wat voor die aanvang van die skof algeheel in vierde plek was, het is nou algeheel in die 20ste plek, 1 minuut en 35 sekondes agter Van der Poel.

Die Brit Geraint Thomas (Ineos Grenadiers), 2018 se kampioen, het vroeg in die skof geval. Hy het hom weer by die peloton aangesluit en is algeheel in die 18de plek.

Suid-Afrika se Louis Meintjes (Intermarché-Wanty-Gobert) het die skof in die 50ste plek voltooi. Nicholas Dlamini (Qhubeka NextHash) was 102de, terwyl Stefan De Bod (Astana-Premier Tech) 106de was.

• Die vierde skof word Dinsdag oor 150,4 km, tussen Redon en Fougères, beslis.

Meer oor:  Louis Meintjes  |  Frankryk  |  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.