Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Toutrekkery oor wie Joshua volgende pak
Dit kan vir Anthony Joshua ’n stryd wees om al sy titels te verdedig. Foto: Getty Images

Twee boksbeheerliggame trek tou oor wie volgende teen die swaargewigkampioen Anthony Joshua van Brittanje moet boks.

Joshua het die Wêreldboksvereniging (WBV), Wêreldboksorganisasie (WBO), Internasionale Boksfederasie (IBF) en Internasionale Boksorganisasie (IBO) se titels gewen deur Andy Ruiz van Mexiko die naweek in Saoedi-Arabië met punte te verslaan.

Deontay Wilder van Amerika is die Wêreldboksraad (WBR) se kampioen.

Die WBO en die IBF het reeds voor Joshua se geveg teen Ruiz aangekondig dat hul eerste aanspraakmakers volgende ’n titelkans moet kry.

Oleksandr Usyk van Oekraïne is die WBO se aanspraakmaker en Kubrat Pulev van Bulgarye die IBF s’n.

Die IBF wil hê Joshua moet volgende teen Kubrat Pulev boks. Hier is Pulev in ’n vorige geveg teen Derek Chisora in aksie. Foto: Getty Images

Die beheerliggame eis dat Joshua hul titels voor 31 Mei teen hierdie manne moet verdedig of hulle neem die titels terug.

“Ek neem dinge stap vir stap en wil die onbetwiste swaargewigkampioen van die wêreld wees,” het Joshua aan Sky Sports gesê.

Maar hy en sy promotor, Eddie Hearn, sal mooi moet beplan as hy sy droom wil verwesenlik.

Dit sal dalk help dat Hearn ook Usyk se promotor is. Die sinvolste uitweg sal wees dat Hearn Usyk en die WBO moet probeer oortuig om te wag totdat Joshua teen Pulev geboks het.

Dit sal Usyk, ’n voormalige juniorswaargewigkampioen, in elk geval die kans gee om aan nog ’n swaargewiggeveg deel te neem.

Sy enigste geveg sover as swaargewig was in Oktober toe hy Chazz Witherspoon met ’n tegniese uitklophou verslaan het.

Die WBO soek vir Oleksandr Usyk in die kryt teen Anthony Joshua. Foto: Getty Images

Joshua het egter ná sy oorwinning oor Ruiz gesê hy is gereed om teen Usyk te “rock and roll’’.

Hy was dalk net ’n bietjie meegevoer, want hy het ook gesê hy is reg om ’n derde keer met Ruiz kragte te meet.

Daar sal dus in die volgende paar weke verskeie vergaderings wees om sake uit te pluis.

Een ding is egter seker – die kans dat Joshua gou teen Wilder of Tyson Fury in die kryt gaan klim, is skraal.

Dié twee vegters pak mekaar in Februarie, so daar sal daarna darem een minder swaargewig wees waaraan Joshua hom hoef te steur.

Meer oor:  Boks  |  Anthony Joshua
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.