Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Toweel, Foreman glo Fury sal wen
Hierdie twee manne gaan mekaar vir seker dik tik! Deontay Wilder en Tyson Fury verduidelik wat hulle Saterdag in Las Vegas aan mekaar gaan doen. Foto: Getty Images

Hy sal nie verbaas wees as Tyson Fury Saterdag in Las Vegas sy lang verwagte herontmoeting met Deontay Wilder met punte wen nie, sê die boksafrigter Alan Toweel.

Toweel is een van derduisende boksaanhangers wat omtrent nie kan wag vir die botsing tussen twee van die swaargewigafdeling se gedugste vegters nie.

Twee jaar gelede het Wilder sy Wêreldboksraad-titel ook teen Fury verdedig. Toe het die geveg gelykop geëindig, met Fury wat aanvanklik voor op punte was, maar Wilder wat die Brit laat in die geveg ’n keer op die planke gehad het.

Alan Toweel by een van sy topvegters, Akani Phuzi. Toweel dink Tyson Fury kan Deontay Wilder as WBR-kampioen onttroon. Foto: Facebook

“Dis juis die feit dat Wilder vir Fury platgeslaan en dat Fury daar opgestaan het, wat my laat dink Fury kan hierdie keer wen,” sê Toweel.

“Fury het gewys hy het ’n ontsettende groot hart en hy het gewys hy kan ’n ontsettende harde hou verduur.”

Volgens Toweel sou Fury baie selfvertroue gekry het omdat hy van die krytvloer af opgestaan het.

“Ek sal graag wil sien hoe reageer Wilder onder dieselfde druk,” sê die breier.

“Ek dink regtig dat Fury met punte kan wen, mits hy nie ’n sny opdoen nie. In sy vorige geveg (teen Otto Wallin) is sy oogbanke oopgekloof en so iets kan natuurlik weer gebeur.”

Die voormalige swaargewigkampioen George Foreman voorspel ook dat Tyson Fury met punte teen Deontay Wilder gaan wen. Foto: Getty Images

George Foreman, voormalige swaargewigkampioen, dink ook Fury kan seëvier.

“Ek voorspel Tyson Fury sal met punte wen. Dit sal waarskynlik ’n omstrede uitslag wees,” het Foreman aan Bookies.com gesê.

Foreman het bygevoeg dat hy geweldig opgewonde is oor die geveg en oor sommige van die gevegte wat die afgelope tyd in die swaargewigafdeling plaasgevind het.

Toweel, wie se pa, Alan senior, in die 1990’s die top-swaargewig Pierre Coetzer afgerig het, sê reguit dat hy in die tydperk toe die Klitschko-broers, Wladimir en Vitali, swaargewigboks oorheers het, belangstelling in dié gewigsafdeling verloor het.

“Nou met Wilder en Fury en Anthony Joshua daar, is die opwinding weer terug. Dis weer lekker om swaargewigboks te kyk,” sê Toweel.

Plaaslik sukkel die swaargewigafdeling egter om behoorlik vlam te vat. Wilhelm Nebe, een van Toweel se swaargewigte, het in ’n kort tyd wel heelwat ondersteuners gekry danksy sy woeste vegstyl.

Nebe sal volgende maand maar in sy vyfde beroepsgeveg in aksie wees wanneer hy Charing Cross Promotions se toernooi in die Blairgowrie-saal in Randburg teen Alick Gogodo van Malawi boks.

Verskeie van Toweel se ander vegters sal by dieselfde toernooi ook bolle rol. Die belowende junior swaargewig Akani Phuzi sal in die hoofgeveg teen Maroy Sadiki van die Kongo te staan kom.

Met die gewilde supermiddelgewig Ryno Liebenberg wat ingestem het om in een van die voorgevegte teen Alex Kabangu van die Kongo te boks, sal die saal dalk te klein wees vir al die mense wat die toernooi sal wil bywoon.

Tyson Fury op die krytvloer in sy eerste geveg teen Deontay Wilder. Foto: Getty Images

Meer oor:  Deontay Wilder  |  Boks  |  Tyson Fury
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.