Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Trane vir Binder – ná net 15 sekondes

Die Krugersdorper Brad Binder se belang by die Teruel MotoGP-ren in Spanje het Sondagmiddag ’n skrale 15 sekondes geduur.

Die 25-jarige Binder het die derde keer in vanjaar se MotoGP-seisoen ’n vroeë stort gehad – nadat hy tussen die eerste en tweede draai van die Aragon-renbaan van agter in die Australiese Pramac-jaer Jack Miller vasgejaag het.

Die Australiër Jack Miller gooi sy hande in die lug nadat ’n botsing met Suid-Afrika se Brad Binder sy Teruel Grand Prix Sondag binne net 15 sekondes beëindig het. In die voorgrond word Binder se motorfiets opgetel. Foto: AP

Albei is van hul motorfietse gegooi en vir albei was die ren verby voor dit behoorlik begin het.

Binder en Miller se botsing was net een element in ’n dramatiese begin van die Teruel MotoGP. Hul ongeluk is sekondes later oorskadu toe Takaaki Nakagami, die eerste Japanner in 16 jaar wat voor op die wegspringrooster van ’n MotoGP gaan staan het, ’n wye lyn gevat en beheer van sy fiets verloor het.

Met niemand naby hom nie het Nakagami van die baan geskuur en die mooi drome waarmee hy die dag begin het, in vlamme sien opgaan.

Met net drie renne oor op die skedule is Binder se kans om as wêreldkampioen gekroon te word daarmee heen – maar daar hang steeds ’n lekker vet geelwortel voor sy neus.

Binder hoop om die seisoen as MotoGP se Nuweling van die Jaar af te sluit. Nadat hy in Augustus in Tsjeggië net die derde Grand Prix van sy jong loopbaan gewen het, en dit opgevolg het met ’n vierde en agtste plek in die volgende twee renne, was hy skynbaar onstuitbaar op koers na daardie titel.

Die Italianer Fabio Quartararo is weer stewig in die wedloop om die wêreldtitel nadat hy die Teruel Grand Prix gewen het. Foto: Reuters

Die opgang van die Spanjaard Alex Marquez (die heersende wêreldkampioen Marc se kleinboet) het egter ’n paar klippe in Binder se pad na die nuweling-kroon gerol.

Die duo het albei 67 punte in die kampioenskap nadat Marquez tweede in albei die renne voor Sondag se Grand Prix geëindig het. Binder se vroeë aftog op Aragon was dus nie goeie nuus nie, met Marquez wat daarmee ’n goue geleentheid gebied is om daglig tussen homself en die Suid-Afrikaner te bewerkstellig.

Die Spanjaard het ’n uitmuntende vertoning gelewer en tot die vierde plek opgeskuif. Maar toe val die spreekwoordelike wiele ook vir hom af . . .

Met tien rondtes oor het Marquez sy balans op Aragon se tweede draai verloor en van die baan gegly. Dit was die einde van sy aanslag, sodat hy en Binder met drie renne oor steeds kop aan kop is.

In die stryd om die wêreldtitel bevind die Italianer Franco Morbidelli hom weer stewig in die wedloop nadat hy Sondag sy tweede oorwinning van die seisoen behaal het.

Die Yamaha-jaer is net 25 punte agter die kampioenskap se voorloper, Joan Mir, nadat hy die voortou in die eerste rondte by die ongelukkige Nakagami oorgeneem het en dit nooit weer verloor het nie.

Hy het twee sekondes voor Suzuki se Alex Rins oor die wenstreep gejaag.

Mir, ook op ’n Suzuki, was derde ná ’n merkwaardige ren waarin hy van 12de op die wegspringrooster tot op die podium gejaag het. Met 137 punte agter sy naam geniet hy nou ’n voorsprong van 14 punte oor Petronas Yamaha se Fabio Quartararo, wat agtste op Aragon geëindig het.

Maverick Vinales is derde, 19 punte agter Mir, en Morbidelli vierde.

• Vroeër Sondag het Binder se kleinboet, Darryn, agtste in die Moto3-ren geëindig.

Darryn, wat verlede maand sy eerste Moto3-sege behaal het, was in ’n stadium Sondag tweede, maar is oor die laaste paar rondtes deur ’n rits teenstanders ingehaal.

Meer oor:  Motorfiets  |  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.