Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Pieter Coetzé (16) gaan Spele toe

Die spanning het hoog geloop toe Pieter Coetzé Maandagaand aantree vir die eerste been van die mans se 4x100 m-wisselslag in die Newtonpark-swembad in die Baai.

Hy is gaar. Drie pogings in die 100 m-rugslag – uitdunne, eindronde én ’n tydtoets – was elk net kort van die Spele-kwalifikasie van 53.85 sekondes.

Pure vreugde! Pieter Coetzé vier sy Olimpiese kwalifikasie in die 100 m-rugslag gedurende die 4x100 m-wisselslag op die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap in Gqeberha. Foto: Anton Geyser

Alle oë is op die 16-jarige reus.

Sommiges noem hom sommer “Oom” met die spiertier wat 1,97 m in sy sokkies staan en die skaal op 90 kg laat kreun.

’n Mens kan verskoon word as jy dink Pieter hoort eerder op ’n rugbyveld, maar dit is die swem-gogga wat hom gebyt het.

Sy aanslag is in die rugslag-been van dié aflosresies.

Net ’n paar uur gelede was ’n gebroke Pieter, ná ’n tydtoets, in trane in sy ma, Annelize, se arms.

Sy afrigter, die befaamde Rocco Meiring, verseker hom dat dit nog nie die einde is nie.

“Ek was in Saterdag se uitdunne baie naby aan die kwalifiserende tyd, so ek het gedink dit is ’n gegewe dat ek dit in die aand in die eindronde sou haal. Maar dit was toe ’n gemors en ek het gegly,” vertel Pieter.

Ek droom al hieroor sedert ek as klein kind begin swem het. Nog nie ’n dag het verloop sonder dat ek daaraan dink nie.

“Ná Maandagoggend se tydtoets het Rocco vir my gesê dat ek nie dinge uit verband moet ruk nie. Ek moes onthou dat ek net 16 is.”

Sy laaste kans lê in die laaste nommer van die byeenkoms waar slegs die rugslag – eerste aan die beurt – vir die Tokio-Spele in terme van kwalifikasie as ’n individuele nommer ook tel.

“Orals waar ek geloop het by die hotel of swembad sou die mense vir my sê ‘laaste kans vanaand’, so dis in my agterkop. Ek het dit probeer uitblok, maar dis daar. Ek het wel geglo ek kan dit doen.”

Die stadion word stil soos wat die swemmers hul plekke inneem.

Hulle spring weg en Pieter neem dadelik die voortou. Hy draai, die tyd lees 25.96 sekondes. Hy moet die laaste 50 m in 27.89 sekondes voltooi om sy droom lewendig te hou.

Pieter Coetzé is net 16 jaar oud, maar reeds 1,97 m lank en weeg 90 kg. Foto: Anton Geyser

Die toeskouers, bestaande uit afrigters en mede-swemmers, moedig hom aan met elke slag wat sy arms die water tref.

Hy raak die muur, ’n oomblik van stilte . . . die tyd verskyn: 53.62!

Die toeskouers juig en vergeet skoon van die res van die aflos wat steeds plaasvind.

“Ek het nie eens na die bord gekyk toe ek geraak het nie. Toe ek hoor hoe skreeu almal, het ek geweet,” vertel Pieter, nou die jongste Suid-Afrikaanse mansswemmer om vir ’n Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Hy lê tans 11de op die seniors se wêreldranglys vir 2021.

“Ek droom al hieroor sedert ek as klein kind begin swem het. Nog nie ’n dag het verloop sonder dat ek daaraan dink nie.”

Van hier af is dit skouer aan die wiel sit vir die Spele.

Dit was sy rolmodel Chad le Clos se Olimpiese oorwinning in 2012 in Londen, toe Pieter net agt jaar oud was, wat hom betower het.

Wie sou dink dat hy vanjaar nog boonop vir Le Clos die skrik op die lyf sou jaag in die uitdunne van die 50 m-vlinderslag?

Wat lê nou volgende voor vir die tiener, wat verlede jaar die skuif van die Hoërskool Rustenburg na Cornwall Hill College in Centurion gemaak het om nader aan sy afrigter te wees?

“Van hier af is dit skouer aan die wiel sit vir die Spele. Net om daar te kan wees gaan so ’n groot voorreg wees dat ek nie tans ’n spesifieke doelwit vir Tokio het nie. Ek beoog wel ’n paar medaljes in die o.18-Wêreldkampioenskap (in Augustus in Rusland).”

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Pieter Coetzé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.