Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Trevor Binder: ‘Brad verlang na sy braaivleis’

Soos dit tipiese Suid-Afrikaners betaam, kan Brad en Darryn Binder nie wag om ’n vleisie op die kole te gooi sodra hulle ná die MotoGP-seisoen na hul tuisland terugkeer nie.

Trevor Binder, dié twee motorfietsryers se pa, sê hy gaan sonder twyfel vir sy seuns braai sodra hulle terug in die land is.

Brad Binder voor Sondag se MotoGP-wedren in Portugal. Foto: Getty Images

Die 25-jarige Brad (Red Bull KTM) is Sondag in Portugal as MotoGP se Nuweling van die Jaar bekroon ná ’n skitterende debuutseisoen op motorfietssport se grootste verhoog. Sy kleinboet Darryn (CIP) ding in Moto3 mee. Hulle is albei reeds sedert die eerste inperking in April geëindig het, by hul Europese basis in Spanje.

“Hulle gaan (Dinsdag) Duitsland toe en Brad moet ’n paar toetse in die windtonnel ondergaan (wat vir, onder meer, stabiliteit op die motorfiets en vashouplek op die pad toets),” het Trevor Maandag aan Netwerk24 gesê.

“Wanneer hulle (KTM) tevrede is met al die uitslae, sal daar vir hulle vlugte terug huis toe bespreek word.”

Brad en Darryn Binder se ouers, Sharon en Trevor Binder. Foto: Deon Raath

Binder sr. verwag sy seuns beslis lank voor Kersfees terug by die huis. Die plan is om vir hulle ’n lekker Kersete voor te sit, “maar hulle is nou groot seuns, ek weet nie of hulle ander planne het nie”.

“Ons sal hulle sien, ons gaan gewoonlik saam met vakansie, maar ek is nog nie seker wat hul planne is nie.

“Ek sal wel sonder twyfel vir hulle braai. Hulle is mal daaroor om te braai, alle Suid-Afrikaners is mal daaroor om te braai.

“Ek is ook seker hulle wil graag hul vriende en familie sien. Hulle het nie baie vriende waar hulle (in Spanje) bly nie. Hulle oefen natuurlik ook die heeltyd, so gehaltetyd saam met hul geliefdes sal vir hulle baie beteken.”

Ons was baie bly dat hy die Nuweling van die Jaar-eerbewys kon wen, maar ons was senuweeagtig.

Trevor en sy vrou, Sharon, het so effens naels gekou oor Brad se laaste wedren van die seisoen Sondag in Portugal.

“Ons was baie bly dat hy die Nuweling van die Jaar-eerbewys kon wen, maar ons was senuweeagtig. Hy het ’n voorsprong van 20 punte oor sy naaste teenstander vir dié eerbewys, Alex Marquez (Honda), gehad.

Brad Binder in die Portugese MotoGP in aksie. Foto: Getty Images

“Marquez sou minstens tweede moes eindig en Brad moes terselfdertyd nie die wedren voltooi nie, vir Marquez om hom uit te stof.

“En toe gaan staan en val Brad in die tweede rondte. Marquez was nie onder die voorste jaers in die wedren nie, maar jy weet mos, dis nie verby totdat dit verby is nie. Ons moes maar net wag.”

Marquez het eindelik negende in die wedren geëindig – 13 punte agter Binder op die algehele punteleer. Binder het sy eerste MotoGP-seisoen in die 11de plek op die algehele punteleer voltooi en sal die jaar veral onthou vir sy skitterende sege by die Tsjeggiese MotoGP.

Darryn Binder verlede week voor die Moto3-wedren in Spanje. Foto: Getty Images

Trevor is nog nie seker “hoeveel steke” Brad ná sy val moes kry nie. “Hy het sy elmboog oopgeskeur. Maar hy sê hy’s oukei.”

Trevor is ook trots op Darryn (22), wat in die Moto3-klas deelneem, maar glo hy kan nog verbeter. Hy het die jaar in die agtste plek op die Moto3-puntestand afgesluit. Dit is reeds ’n groot verbetering op sy 22ste plek van 2019.

“Darryn was oukei, hy is ’n bietjie groot vir daardie klas. Hy is volgende jaar weer in daardie klas en ons hoop hy vaar so ietwat beter.”

Meer oor:  Motogp  |  Motorsport  |  Moto3  |  Brad Binder  |  Trevor Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.