Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Trots op SA, maar ek móés uitpraat’
Dricus du Plessis
Dricus du Plessis vier sy oorwinning in sy gemengdegevegskuns-geveg teen die Brasiliaan Markus Perez. Foto’s: Getty images

In die sekondes nadat hy verlede Saterdagnag as die wenner van sy heel eerste stryd op die grootste verhoog in gemengde gevegskuns aangekondig is, het Dricus du Plessis reguit na die kamera gekyk en twee woorde geskree.

“Suid-Afrika, pappie!” het hy met ’n groot glimlag laat hoor.

Toe ’n mikrofoon net daarna onder sy neus gedruk is, het die 26-jarige Pretorianer gewéét hy kon nie net babbel oor die linkerhaakhou waarmee hy Markus Perez neergevel het nie. By die huis was dit chaos, in die nadraai van die sinlose moord op die jong plaasbestuurder Brendin Horner. Dit het te swaar op Du Plessis se hart gedruk om nie daaroor te praat nie.

“My land is deur so baie oor die jare, Suid-Afrika gaan nou deur soveel,” het hy gesê.

“Ons het plaasmoorde wat die hele land oorrompel, dis iets ongelooflik. Mense word elke dag vermoor, maar ek meen omdat dit Afrika is, weet ’n groot deel van die wêreld nie daarvan nie.

“So ek wil net vir my mense in Suid-Afrika sê: Bly sterk, ons kan die oorlog wen. Ek het nou ’n geleentheid om op die grootste verhoog ter wêreld te sê stop die plaasmoorde. En ek wil hê die wêreld moet sien wat in Suid-Afrika gebeur. Dis so ’n mooi land, een van die mooistes in die wêreld, maar dit word geruïneer deur iets soos dié moorde. Kom ons staan saam as ’n land en as die mensdom, en kom ons klop hierdie ding.”

Ses dae ná dié woorde sit Du Plessis gister op sy ouers se plaas in die Magaliesberge, met vrede in sy hart dat hy iets wat so swaar op sy gemoed rus, met die wêreld kon deel.

Ek is nie ’n politikus nie, ek het nie eens eintlik opinies oor die politiek nie. Maar ek het ’n opinie oor wat met ons land en sy mense gebeur.

“Ek is ’n plaasseun, ek het grootgeword op ’n plaas naby Hartbeespoort, maar dit het nie net gegaan oor my en my mense nie. Ja, seker 90% van my vriende woon op plase, en ons het ook een, maar dit is groter as dit. Dit gaan oor my land, sonder enige rasse-implikasies. Dis die konsep van mense wat vir ons land sorg en die land liefhet, wat werk om die land te voed, maar vrees vir hul lewens terwyl hulle dit doen,” sê Du Plessis.

“Ek is nie ’n politikus nie, ek het nie eens eintlik opinies oor die politiek nie. Maar ek het ’n opinie oor wat met ons land en sy mense gebeur. En daai mense wat sê dit gebeur minder as ander moorde . . . hoe kan jy sê een keer ’n dag is te min om aandag te gee? Een plaasmoord is een te veel. Een moord van enige soort is een te veel, of dit ’n wit persoon of ’n swart persoon of wie ook al is wat vermoor word. Dis nie oukei nie, en die wêreld moet weet: Suid-Afrikaners word elke dag aangeval, gemartel, vermoor, en dit kan nie meer so aangaan nie.”

Markus Perez skop vir Du Plessis in die gesig tydens hul geveg in Abu Dhabi.

Du Plessis sê hy het nie verlede Saterdag in die UFC-hok geklim met ’n deftige toespraak in sy agterkop nie. Hy was nie eens seker dat hy iets sou sê nie.

“Ek het vooraf met my pa daaroor gepraat, gevra of hy dink ek moet iets sê. Maar ek moes eers wen voor ek die reg sou hê om iets te sê. Dink jou in ek het verloor, en ek word gevra hoe ek voel oor die geveg, en dan bars ek uit met ‘Kom ons stop plaasmoorde’. Dit sou nie so ’n groot impak gehad het as ek nie eers gewen het nie.”

Dat die jong Suid-Afrikaner sou wen, was in elk geval geen uitgemaakte saak nie. Inteendeel.

Du Plessis het net twee weke voor UFC se Fight Island 5 (die vyfde toernooi in die Abu Dhabi-bioborrel waarin hul bedrywighede deesdae weens die koronavirus-pandemie plaasvind) gehoor die deur na die kompetisie van sy drome het oopgeswaai.

Op die brose ouderdom van 26 – in ’n sport waarin atlete eers in hul laat 20’s of 30’s op hul beste is – kan Du Plessis reeds spog dat hy die beste gevegskunstenaar in Afrika se Extreme Fighting Championship (EFC) is, met die weltergewig- en middelgewig-titels agter sy naam.

Ook in Pole se Konfrontacja Sztuk Walki (KSW), die grootste kompetisie in Europa, is die middelgewig-gordel al om sy middel vasgemaak. Dit was net ’n kwessie van tyd, het hy geglo, voordat die UFC bel.

“Ek het net ’n gevoel gehad ek gaan my kans in die UFC binnekort kry, en dat dit op kort kennisgewing gaan wees,” sê Du Plessis. “Ek het nooit ophou oefen deur die inperking nie, en baie mense het gevra waarvoor ek so hard werk, want daar was geen kompetisies om voor gereed te wees nie. Maar jy wil nie die oproep kry dat die UFC ’n opening vir jou het, en dan sit met ’n groot maag en te min tyd om reg te wees nie.

“Toe my agent bel en sê die UFC soek my in Abu Dhabi, het ek nie eens gevra teen wie ek gaan veg nie – dit het nie saak gemaak nie. Al waaroor ek omgegee het, is die kans om te wys ek is nou hier regtig een van die wêreld se bestes.

“Die kontrakte vir die UFC en die geveg self was al geteken toe ek hoor ek kom te staan teen iemand wat nog nooit uitgeslaan is nie en al jare in die UFC is.”

Sy teenstander was ’n 30-jarige Brasiliaan met die naam Markus Perez, wat al drie jaar in die UFC veg en nog nooit met ’n uitklophou verloor het nie.

Perez sou aanvanklik teen sy landgenoot Rodolfo Vieira geveg het, maar Vieira het siek geword en is toe deur Du Plessis vervang.

Perez was vol streke voor die geveg. Verlede Vrydag het hy sy gesig soos dié van die Joker geverf en grootmeneer voor die Suid-Afrikaner gaan staan by die ‘Face Off’ voor hul groot stryd.

Du Plessis was nie beïndruk nie. “Dis nie iets wat ek sal doen nie, maar as ander ouens dit wil doen, is dit hul saak. Maar dit is nie ’n clown show nie, dis nie ’n sirkus nie. Dis ’n ernstige besigheid. Ons is moderne gladiators, ons veg ook op ’n manier vir ons lewens elke keer dat ons in die arena klim,” sê Du Plessis.

Markus Perez staan met ’n Joker-gesig voor Du Plessis.

“Kyk so daarna: Dit is hoe ek kos op die tafel sit. As ek verloor, kry ek minder geld. As ek verloor in die EFC, sien die UFC my nie raak nie. As ek verloor in my eerste geveg in die UFC kry ek dalk nie weer ’n kans nie.

“Die UFC is nogal genadeloos in daardie opsig. Waarskynlik sou hulle my nog ’n kans gegee het as ek teen Perez verloor het, omdat ek so min tyd gehad het om voor te berei, maar baie keer sny hulle ’n ou uit as hy nie die eerste keer wen nie. As jy waarborge wil hê, moet jy wen. Dis regtig ’n ernstige saak.”

In die eerste drie minute van Saterdag se stryd het Perez die Suid-Afrikaner soos ’n warrelwind getref. Hy het Du Plessis in trurat gedwing en aanvanklik al die reëls gemaak.

Maar die Suid-Afrikaner – ’n man wat al op 19 sy eerste beroepsgeveg gehad het en oor die jare min of meer alles gesien het – het net één kans nodig gehad om die Brasiliaan op sy plek te sit. Met 100 sekondes oor in die eerste ronde het hy Perez met ’n linkerskop van balans gedwing, ’n regterhou na hom gemik en ’n linkerhaakhou teen sy slaap laat land. Die ouer man het soos ’n sak mielies neergesak, en Du Plessis se grootste droom het waar geword.

Dis net die begin, net nog ’n tree na waar ek eintlik wil wees.

“Ek gaan klim altyd op die hok se rand nadat ek gewen het, maar omdat daar geen toeskouers was nie, het ek voor die tyd gedink dit sou simpel wees om dié keer so te maak, want vir wie sou ek dit doen? Tog, toe die oomblik kom, was dit presies wat ek gedoen het, ek was net só bly. Gewoonlik as ek daar sit en skree kan ek myself nie hoor nie, want die skare raas so, maar die keer was my stem so hard. Dit was vreemd, maar dit was steeds lekker,” sê hy.

Met ’n eerste UFC-sege onder sy belt, is Du Plessis se pad nou geplavei. Hy is reeds verseker van vier gevegte in die reeks, en sal waarskynlik daarin te staan kom teen mededingers wat min of meer dieselfde keuring as hy het. Die groot honde wag hopelik eers daarna.

“Daar het nou ’n groot lewensdroom vir my waar geword, maar dis nog nie die einde nie,” sê hy. “Dis net die begin, net nog ’n tree na waar ek eintlik wil wees.”

En waar is dit?

“Ek wil die beste wees wat die wêreld nog ooit gesien het,” antwoord Du Plessis. “Dit gaan nie oor watter titels ek wen, of hoeveel nie, maar oor of ek een van die werklike greats van die sport word. Dis waaroor ek droom vandat ek begin het, en ek dink almal weet nou ek kan daar uitkom.”

Meer oor:  Dricus Du Plessis  |  Ufc  |  Onderhoud  |  Markus Perez  |  Gemengde Gevegskuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.