Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Trump sê sy NBA-kritici is ‘naar’ en ‘dom’

Die dooiepunt tussen pres. Donald Trump van Amerika en Amerikaanse NBA-spelers gaan skynbaar nie binnekort eindig nie.

Pres. Donald Trump beskuldig NBA-spelers van ‘oneerbiedigheid’ en sê hul gedrag is ‘skandelik’ deur op een knie te sak met die speel van die volkslied voor kragmetings. Foto: Getty Images

Trump en basketbal sit die afgelope ruk wat politiek betref nie om dieselfde vuur nie. USAToday berig Trump het in ’n onderhoud met Clay Travis op Fox Sports-radio se Outkick the Coverage-program gesê dat hy nie die spelers en afrigters se kritiek teenoor hom gehoor het nie, maar dat hy “glad nie verras is” nie.

“Sommige van hulle is baie naar, baie, baie naar en in alle eerlikheid, baie dom,” sê hy.

Die president het sy mening gelug oor ’n klompie sportsoorte se benadering jeens die Covid-19-pandemie en hoe hulle vaar sedert hulle hervat het.

Hy was byvoorbeeld vol lof vir gholf, maar het houe gemik na die NBA.

Spelers en afrigters het sedert basketbal hervat het op een knie gesak met die speel van die volkslied, “Black Lives Matter”-hemde gedra en die name op hul truie vervang met boodskappe oor polisiegeweld en maatskaplike ongeregtigheid.

Dié gebaar stem ooreen met betogings in ander sportsoorte, insluitende MLB-bofbal en NHL-yshokkie, wat in 2016 begin is deur die NFL-voetbalspeler Colin Kaepernick.

Trump veroordeel sulke gebare van destyds af en glo dit doen die NBA nou skade.

“Ek dink basketbal misluk weens die wyse waarop hy ons vlag en volkslied behandel,” sê hy.

“Sake verloop aaklig vir basketbal. Kyk na die sport se televisie-kykergetalle, dit het baie afgeneem.”

Die NBA se TV-kykergetalle was verlede week minder as sy gemiddeld voordat die pandemie toegeslaan het, maar was steeds beter as dié van die MLB- en NHL-wedstryde wat uitgesaai is.

“Mense is kwaad daaroor,” sê Trump oor die NBA-betogings.

“Hulle besef nie hulle het genoeg politiek met ouens soos ek nie, hulle het nie nog nodig nie.

“Daar was venynigheid in wat die NBA gedoen het, so ook met die wyse waarop dit gedoen is.

“Ek dink die NBA is in die moeilikheid. Ek dink dit is in groot moeilikheid, groter as wat hulle verstaan.

“Eerlikwaar, yshokkie, wat baie goed vaar, het dit nie gedoen nie, hulle het respek getoon.

“Ek herhaal, jy moet staan vir jou vlag en respek hê vir jou vlag en jou land.”

Die Los Angeles Lakers-superster LeBron James het verlede week gesê basketbal sal Trump geensins mis nie nadat die president erken het hy skakel NBA-wedstryde af wat deur protesoptrede ten gunste van maatskaplike geregtigheid voorafgegaan word.

Doc Rivers, afrigter van die Los Angeles Clippers, stem saam met James.

“Wel, ons het een ou verloor. Wat daarvan? Ek gee nie om nie. Ons weet geregtigheid is aan ons kant,” sê Rivers.

Die Golden State Warriors se Stephen Curry tel onder Trump se grootste kritici.

“My maatstaf is altyd dat as die huidige president ontstel word deur iets waaroor iemand hulle uitspreek, dan word die regte goed waarskynlik gesê,” sê hy.

– Sportredaksie

Meer oor:  Basketbal  |  Donald Trump  |  Nba  |  Lebron James
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.