Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Twee Tukkies span hul seile vir Rio

Die afgelope paar jaar is dit amper ’n geval van noem enige sport en die kans is goed dat Tuks daarin sal presteer.

Dit beteken nie dat Tuks-sportlui ooit op hul louere rus nie. Hulle is gedurig op soek na nuwe uitdagings. Dit is waarom die universiteit nou ’n seiljagklub het.

Dit bring beslis nuwe uitdagings. Aanstaande jaar, as alles volgens plan verloop, sal twee Tukkies, Jonathan Ham en Michaela Robinson, aan die Kaap na Rio-seiljagwedvaart deelneem.

Die Tukkie Jonathan Ham is van plan om volgende jaar aan die Kaap na Rio-seiljagwedvaart deel te neem.Foto: BRONWEN KLAAS

Robinson is ’n voormalige dubbele wêreldkampioen. Sy en haar broer, Ryan, het in 2013 en 2014 hul kategorie in die Mirror-klas gewen.

Wat hul vertoning selfs merkwaardiger gemaak het, is dat hulle in ’n houtboot deelgeneem het, terwyl die meeste ander seiljagvaarders in veselglasbote gevaar het.

Ham en sy broer, Alexander, het al self internasionale sukses gesmaak. Hulle was verlede jaar tweede in hul kategorie in ’n wedvaart in Australië.

Hy verkies om in die 505-dinghie-klas deel te neem.

As ’n mens na Ham luister, word dit duidelik dat om in dié klas mededingend te wees ware vaardigheid verg.

Die grootste uitdaging is skynbaar om die boot ten alle tye regop te hou. Dit het al gebeur dat hy as’t ware op die rand van die boot moet staan en so ver as moontlik na die water moes uithang in ’n poging om te keer dat die boot omkantel. Dit kan opwindend raak.

“Gedurende ’n wedvaart is kommunikasie van kardinale belang. Jy en jou spanmaat moet amper weet wat om te doen sonder dat woorde nodig is,” sê hy.

Volgens Ham sal hy voor ’n belangrike wedvaart sy “huiswerk” doen.

“Om werklik mededingend in seiljagvaart te wees is dit belangrik dat jy die weer verstaan, veral die wind. Dit bly voortdurend verander omdat daar soveel faktore is wat die wind kan beïnvloed.

“As jy die tekens gedurende ’n wedvaart reg kan lees, is dit ’n besliste voordeel, want dan kan jy betyds die seile reg span om die meeste van enige windversnelling te maak.”

Vandat sy broer, Alexander, drie jaar gelede ’n rol gespeel het om ’n seiljagklub by Maties aan die gang te kry, droom Ham daarvan dat Tuks ook sy eie klub moet hê. Sy passie het uiteindelik vrugte afgewerp.

Nieamptelik kan Tuks reeds daarmee spog dat hulle die Suid-Afrikaanse Universiteite-kam­pioene is. Hulle het verlede jaar die Ussa-regatta gewen, maar die Tukkies se uitslae kon nie erken word nie omdat hulle as individue deelgeneem het.

Ham is vol vertroue dat hulle vanjaar wel daaraan sal slaag om dié titel Tuks s’n te maak.

Meer oor:  Rio De Janeiro  |  Tukkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.