Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Tyd vir Erin Burger die afrigter’

Getrou aan haar aard, wil Erin Burger niks halfpad doen nie.

Daarom moes die ervare Protea-senter kies toe sy by ’n kruispad kom: óf nog speel óf ’n heeltydse afrigter word.

Erin Burger wen balbesit voor Jade Clarke van Engeland in die wedstryd om die bronsmedalje in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Liverpool. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaanse netbal is Dinsdag onkant betrap toe dié 32-jarige Pretorianer haar uittrede uit internasionale netbal aangekondig het.

Burger is Suid-Afrika se mees ervare speler met 125 toetse op haar kerfstok en haar uittrede laat net so groot leemte soos dié van Maryka Holtzhausen ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi.

Burger sê grappenderwys dit is tyd vir die “grootmenslewe”. Sy moet ’n salaris verdien en haar passie is skole-afrigting, sê sy.

“Dit is nou die perfekte tyd om alles wat ek geleer het, terug te gee.

“Ek wil byna sê dit is nog vars in my geheue.”

Ek het altyd hard geoefen, maar nie slim of effektief nie.
Erin Burger

Burger sê sy wil ’n pad met ’n skolespan stap en nie net op kort termyn afrig nie. Maar sy kan haar nie 100% verbind as sy nie self by die span kan wees nie.

’n Speler se kondisionering is vir haar ook baie belangrik.

“Ek wil hê ander moet uit my foute leer. Ek het altyd hard geoefen, maar nie slim of effektief nie.”

Erin Burger met die trofee as die Speler van die Toernooi ná 2011 se Wêreldbeker-toernooi in Singapoer. Foto: Getty Images

Burger het vanjaar reeds saam met spanne van die Hoërskool Lydenburg en Worcester Gimnasium gewerk.

Sy het in Januarie 2018 die eerste speler geword om ’n honderdtal vir die Proteas te behaal en het vanjaar in haar vierde WB-toernooi gespeel.

Sy is ná 2011 se skouspel in Singapoer as die Speler van die Toernooi aangewys.

Burger het ook aan 2010, 2014 en 2018 se Statebondspele deelgeneem in ’n skitterende loopbaan wat oor 12 jaar gestrek het. Sy het in Januarie 2007 as ’n 19-jarige haar debuut teen Engeland in Birmingham gemaak en heel gepas op 21 Julie vanjaar haar laaste toets ook teen die Rose gespeel.

Burger het onder vyf Protea-afrigters gespeel.

Sy het Noord-Gauteng, Tshwane, die Jaguars en die destydse Firebirds verteenwoordig en vir Tuks gespeel.

Burger het een seisoen vir die Southern Stings gespeel en was in 2016 die kaptein toe die Wes-Kaap in Durban die Suid-Afrikaanse kampioenskap gewen het.

Sy het vanjaar op ’n korttermynkontrak vir die Australiese Superligaspan die Queensland Firebirds gespeel.

Meer oor:  Netbal  |  Suid-Afrika  |  Erin Burger  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.