Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Uitstel manna uit die hemel vir SA

Die uitstel van die Olimpiese Spele is in sommige opsigte ’n tweesnydende swaard – maar vir Suid-Afrika se medaljekanse in Tokio is dit oorwegend positief.

Caster Semen­ya se fokus is deesdae op die 200 m.Foto: Getty

Dis die mening van Danie Cornelius, hoof van atletiek by Tuks, waar Olimpiese hoopvolles soos Caster Semenya, Akani Simbine en Clarence Munyai hul talente slyp.

“Dis goed in die opsig dat Wayde (van Niekerk) ekstra tyd het om weer op sy beste te kom, nadat hy vir twee jaar nie kon deelneem nie, en dat Caster rustiger kan probeer verbeter op die vreemde terrein van die 200 m (waarop sy nou haar visier gestel het omdat sy nie toegelaat word om aan die 800 m deel te neem nie),” het Cornelius gister gesê.

“Caster het my regtig verras by die Gauteng-Noord-kampioenskappe (waar sy twee weke gelede ’n persoonlike beste tyd van 23.49 gehardloop het), maar sy is nog sewe tiendes van ’n sekonde buite die kwalifiserende tyd. Dis regtig baie, en nie so maklik om af te sny nie, maar nou het sy meer tyd daarvoor.

“In ’n breër konteks gee die uitstel van die Spele afrigters kans om hul atlete se programme aan te pas sodat hulle ruskans kry, waarvoor daar nie gewoonlik tyd is in ons druk seisoene nie, en waarmee ’n beter basis vir volgende jaar gebou kan word.

“As ek nou die afrigter van een van ons topatlete was, sou ek hierdie seisoen afgeskryf het, want ons weet in elk geval nie wanneer daar weer kompetisies sal kan wees nie, en net fokus op die Olimpiese Spele. Dalk is daar laat in die jaar wel Diamantliga-byeenkomste, maar baie atlete neem net daaraan deel vir geld. Wen ’n medalje by die Spele en jy is verseker van hope geld, so konsentreer eerder daarop.”

Cornelius voorspel juis dat die Diamantliga-reeks nie vanjaar so mededingend soos in die verlede sal wees nie – as dit wel sou plaasvind. Met die Spele af van die 2020-kalender is daar nie vanjaar ’n groot byeenkoms waarvoor atlete werk nie, sodat die meeste dit rustiger as gewoonlik kan vat.

Dis goed in die opsig dat Wayde (van Niekerk) ekstra tyd het om weer op sy beste te kom.
Danie Cornelius

Waar die uitstel van die Spele in Cornelius se mening allesbehalwe katastrofies is, kan dit wel vir sommige jongelinge negatief wees dat ’n ander groot byeenkoms, die o.20-Wêreldkampioenskappe wat in Julie in Kenia sou plaasvind, ook op ys is.

“Vir baie jong atlete is daardie byeenkoms altyd ’n goeie aanduiding van hoe hul loopbane ontwikkel, en vanjaar moet hulle daarsonder,” sê hy.

Sommige atlete sal dalk ook benadeel word deur die minder kompetisie vanjaar.

“Akani Simbine (wat in 2016 in Rio de Janeiro die eerste SA man in 84 jaar was wat die Olimpiese eindronde van die 100 m gehaal het), sou beslis vanjaar ’n medalje kon wen. Hy het net nou die dag by die Gauteng-Noord-kampioenskappe ’n 9.91 gehardloop. Maar gaan die feit dat hy minder gaan deelneem as in ’n ‘normale’ seisoen hom nadelig beïnvloed voor die Spele wel plaasvind, of gaan dit hom sterker maak om meer tyd vir voorbereiding te hê? Ons kan nie met sekerheid sê nie.”

Wayde van Niekerk skree van pyn nadat hy sy knie in ’n raakrugby-wedstryd so erg beseer het dat hy twee jaar op die kantlyn was. Foto: Gallo

Nog iets wat niemand kan voorspel nie, is hoeveel atlete wat nou in die skemer van hul loopbane is, moontlik voor die Spele die son sal sien sak.

“Simon Magakwe (’n voormalige SA rekordhouer in die 100 m wat in Mei 34 word) sou vanjaar nog by die Spele kon uitkom, maar volgende jaar is dit dalk ’n ander storie.”

Cornelius sê iets wat hom opgewonde maak, is dat SA atletiek waarskynlik sterker aflosspanne na die skouspel sal kan stuur.

“Nou sal ons waarskynlik meer byeenkomste hê waar ’n 4x400-mansspan kan kwalifiseer. Ons het uitstekende atlete oor 400 m soos Sokwakhana Zazini, Thapelo Phora, Zakithi Nene en Pieter Conradie, wat almal in staat is tot tye onder 46 sekondes.

“As jy gaan kyk na die 4x400-span wat (in 2011) silwer by die wêreldkampioenskappe gewen het, was dit basies net LJ (van Zyl) wat onder 45 sekondes kon gaan, maar die ander (Oscar Pistorius, Ofentse Mogawane, Willie de Beer en Shane Victor) kon almal lae 45’s hardloop. Ons kan nou weer ’n span bymekaarkry wat almal so vinnig is.

“Dan het ons jeugmeisies wat baie goed lyk en by volgende jaar se aflos-Wêreldkampioenskap kan toets watter soort kans ons in die vroue se 4x400 sou hê.

“En ons het ongelooflike diepte wat betref ons mansnael­lopers, in hierdie stadium selfs beter as ’n land soos Jamaika. So die uitstel versterk ons kans om ’n medalje in die 4x100 te wen. Ons kan meer oefenkampe hou en seker wees ons stuur die heel vinnigste atlete.”

Dit gee hom verdere hoop dat hulle oorweeg om die Spele dalk in Mei of Junie 2021 te hou om die somerhitte van Julie te ontduik. “Ons atlete moet gewoonlik twee keer piek: in April vir ons nasionale kampioenskappe, en dan weer in Julie, Augustus vir die jaar se grootste internasionale kompetisie. Vir ’n Spele in Mei sal ons ouens dus gerat wees, terwyl atlete in die Noordelike Halfrond, wie se strukture vereis dat hulle later in die jaar op hul beste is, kan sukkel.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Uitstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.