Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Valslag hou Impey uit Spele én Tour
Daryl Impey toe hy die negende skof van die Tour de France in 2019 gewen het. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Daryl Impey sal weens beserings wat hy verlede maand tydens ’n valslag opgedoen het, nie vanjaar by die Olimpiese Spele in aksie wees nie.

Impey (36) het dié nuus Maandagoggend op Twitter gedeel.

Hy het tydens die naelrit in die vyfde en laaste skof van ’n wedren in Spanje geval.

“Weens die ongeluk en beserings wat ek tydens die laaste skof van die Ruta del Sol opgedoen het, moet ek my onttrek aan Span Suid-Afrika vir vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio,” sê Impey.

“Ek sal nie in die aand kan slaap wetende dat ek nie in die beste moontlike toestand is om my land te verteenwoordig nie.”

Die ervare Impey was in 2012 en 2016 in die padwedren by die Olimpiese Spele in aksie.

Die besering beteken dat sy naam ook nie uitgelees sal word wanneer sy beroepspan, Israel Start-Up Nation, vandeesweek sy span vir die Tour de France aanwys nie.

Impey, ’n Johannesburger van geboorte, het in 2019 nuusopskrifte gehaal toe hy die negende skof van die Tour gewen het.

In die proses het hy slegs die tweede Suid-Afrikaner naas Robert Hunter (in 2007) geword wat ’n skof in die wêreld se mees prestigeryke fietswedren wen.

Impey, ’n negemalige nasionale tydtoetskampioen, het in 2013 vir twee skofte die geel trui as algehele voorloper in die Tour gedra.

Stefan de Bod moet straks nou in die binnebaan wees om Impey se plek by die Spele in te neem. Die 24-jarige De Bod is ’n boorling van Worcester in die Wes-Kaap en ry tans vir Astana-Premier Tech-span.

Hy het algeheel 24ste geëindig in die Tour de Suisse, wat Sondag tot ’n einde gekom het.

Hy is ook ’n bedrewe tydtoetsryer. De Bod was vanjaar agtste in die tweede skof van die UAE Tour en negende in die tweede skof van die Volta Ciclista a Catalunya – albei tydtoetskofte.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Daryl Impey  |  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.