Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Van Heerden swem kwalifiserende tyd
Johann van Heerden Foto: Gallo Images

Bloemfontein. – Nadat Johann van Heerden (20) eergisteraand reeds ’n A-kwalifiserende tyd vir die Paralimpiese Spele geswem het, sal die Vrystaat duim vashou om sy swemmer in September in Rio de Janeiro te sien.

Van Heerden het op die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap en proewe vir die Olimpiese Spele wat in Durban aan die gang is, in die 100 m-borsslag (SB9) gekwalifiseer vir dié skouspel.

Die kwalifiserende tyd is 1:14.45 en hy het ’n tyd van 1:12.64 geswem.

Hoewel die boorling van Hartswater in die Noord-Kaap reeds die kwalifiserende tyd behaal het, is dit nog nie ’n uitgemaakte saak dat hy na Rio sal reis nie.

Die swem-koördineerder van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Fisies en Visueel Gestremdes, Laurence van Heerden, sê slegs drie mans- en vroue-swemmers kan na die Spele gaan.

“Die Internasionale Paralimpiese Komitee het slegs drie plekke vir mans en vroue onderskeidelik aan Suid-Afrika toegeken.

“Daar behoort meer as drie swemmers te wees wat die kwalifiserende tye swem, maar slegs die drie beste mans en vroue sal deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee gekies word,” sê Laurence.

“Swemmers wat ’n kans staan om medaljes te verower of in eindrondes behoort te swem, sal gekies word.”

Benewens die kwalifiserende tyd wat Johann in die 100 m-borsslag geswem het, mik hy ook na ten minste B-kwalifiserende tye in die 50- en 100 m-vryslag (S10).

Dit sal sy kanse om na die Spele te gaan ’n groot hupstoot gee. Die B-kwalifiserende tyd vir die 50 m-vryslag (S10) is 27.26 sekondes. Van Heerden neem Vrydag aan dié item deel en het ’n persoonlike beste tyd van 27.02 s. In die 100 m-vryslag (S10) is die B-kwalifiserende tyd 59.82 s. Die swemmer van Kovsie Aquatics sal vandag probeer om sy persoonlike beste tyd van 01:00.07 in dié item te verbeter. Van Heerden is bly oor die uitslag van die 100 m-borsslag en voel positief dat hy die kwalifiserende tye sal kan haal. “Dit is ongelooflik – ’n droom wat waar word. Ek is baie na aan die ander twee items se tye, so ek is positief,” het hy gesê.

Die Paralimpiese-span word in Julie aangewys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.