Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vanes-Mari nog lank nie klaar met netbal

Daar’s nog baie tyd om ’n baba te hê én in 2022 vir Suid-Afrika netbal te speel op die Statebondspele.

Vanes-Mari Proudfoot van die Smileys (links) en Claudia Jarrard van die Southern Stings stry om balbesit in ’n Liga-wedstryd in Pretoria. Foto: Gallo Images

Só skerts die oud-Protea Vanes-Mari Proudfoot toe sy vandeesweek oor haar nuwe netbalrol uitgevra word.

Proudfoot sê sy is beslis nog nie klaar met netbal nie en 2022 se Statebondspele in Birmingham, Engeland, is in haar toekomsvisie.

Dié doelskieter en verdediger speel tans die Smileys in die Nasionale Liga. Sy kan nie uitgepraat raak hoe lekker dit is om saam hulle te oefen en speel nie.

“Ek kan nog by hulle kers vashou en saamhardloop. Dit is ook lekker om my ondervindings met hulle te kan deel en te help met hul geestelike voorbereiding, veral die Proteas wat nou vir die Wêreldbeker-toernooi gekies is,” sê Proudfoot.

Die 29-jarige Kapenaar het 38 toetse en 36 Fast5-wedstryde vir Suid-Afrika gespeel en was in 2011 in Singapoer ’n lid van die WB-span.

Proudfoot het baie hooi op haar vurk. Nadat sy verlede jaar aan M-Net se realiteitsreeks Dancing with the Stars South Africa! deelgeneem het, het sy ’n aanbiedersrol by die Kyknet-joernaalprogram Kwêla losgeslaan.

Sy geniet haar TV-werk terdeë en verklap sy kry eersdaags ’n nuwe aanbiedersrol.

Haar netbalvuur brand nog sterk.

Vanes-Mari (toe nog Du Toit) in aksie teen Jhaniele Fowler van Jamaika in ’n Fast5-wedstryd in 2012 in Auckland, Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

“Ek sê die Here dankie vir my netbaltalent. Ek steek dit nie onder ’n maatemmer weg nie. Ek het twee bene, twee arms, ’n lyf en talent. Ek sal speel totdat my lyf ingee,” sê Proudfoot.

“Ek speel nou op my terme.

“Ek geniet selfs die kondisionering, ek was nog altyd ’n fikse en aktiewe mens en wil gesond wees.”

Dit is net om ’n balans tussen haar huwelik, haar werk en haar sport te vind, sê sy.

Proudfoot het verlede jaar vir die Flames van Noordwes in die Liga speel, en ook vir dié streek in die provinsiale toernooi.

“Ek sal seker later vanjaar weer vir hulle speel, maar vir nou geniet ek die Smileys en Dorette Badenhorst se afrigting.”

Proudfoot is ook ’n motiveringspreker, seremoniemeester, bemarker van haar eie reeks onderklere, is betrokke by gemeenskapsaksies en skryf soms artikels vir Bloss Media.

Die Kapenaar is bankvas agter die Proteas en glo hulle gaan in Julie in die WB-toernooi met ’n medalje wegstap.

“Hulle gaan ons naam hoog hou. Hulle is ’n ongelooflike groep vroue,” sê Proudfoot.

Meer oor:  Netbal  |  Vanes-Mari Proudfoot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.