Kort nadat die verdedigende Tour de France-kampioen, Egan Bernal, se aanslag om vanjaar sy titel te verdedig Sondag tot ’n einde gekom het, het hy hom aan vanjaar se wedren onttrek.
Die 23-jarige Colombiaan se span, die Ineos Grenadiers, het Woensdag dié besluit in ’n verklaring aangekondig. Bernal het die afgelope twee weke nooit regtig gelyk asof hy weer vanjaar se wedren kan wen nie en met die 15de skof, Sondag, is sy wenkanse finaal verydel. Hy het die skof in die 25ste plek, sewe minute en 20 sekondes ná die skofwenner, Tadej Pogacar (UAE), afgesluit.
Dit het Bernal algeheel van die derde na die 13de plek op laat uitsak – ’n volle agt minute en 25 sekondes agter die draer van die geeltrui, Primož Roglic (Jumbo-Visma).

Vanjaar is Egan Bernal se trane nie van vreugde nie. Hier is die Colombiaan toe hy die Tour de France in 2019 gewen het. Foto: Getty Images
Dinge het nie regtig beter gegaan tydens die 16de skof Dinsdag nie, waar hy deur die peloton agtergelaat is. Daar is lankal sprake dat Bernal se rug hom opkeil en deels verantwoordelik vir sy swakkerige peil is.
Hy het verlede maand die handdoek weens ’n rugbesering ingegooi ná die derde skof van die Critérium du Dauphiné.
“Dit is uit die aard van die saak nie hoe ek my Tour de France wou laat eindig nie, maar ek stem saam dat dit die regte besluit is, gegewe die omstandighede,” sê Bernal, volgens ’n verklaring van sy span.
“Ek het die grootste respek vir die wedren en sien reeds daarna uit om in die komende jare weer terug te wees.”
Toe Bernal se aanslag Sondag in die hek geduik het, het dit ook die Ineos Grenadiers se oorheersing in die wedren tot ’n einde gebring. Die span se spanhoof, Dave Brailsford, het gevolglik opnuut deurgeloop onder kritiek dat hy Chris Froome en Geraint Thomas, wat die Tour vyf keer tussen hulle gewen het, by die huis gelos het.
“Egan is ’n ware kampioen wat hou van die wedren, maar hy is ook ’n jong ryer, wat nog baie keer in die Tour kan ry. In hierdie stadium voel ons dit is beter dat hy nie verder ry nie,” het Brailsford gesê. – Sportredaksie