Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Verstappen herinner my aan Schumacher’
Max Verstappen vier sy oorwinning by Silverstone. Foto: Getty Images

Ross Brawn, voormalige tegniese direkteur van Ferrari, sê Max Verstappen, wenner van die 70ste Herdenking-Grand Prix, herinner hom aan die Formule Een-legende Michael Schumacher.

Brawn was die meesterbrein agter Schumacher se sewe wêreldtitels saam met Benetton (1994 en 1995) en Ferrari (2000-2004) en was die spanbaas by Mercedes toe die Duitser sy terugkeer in 2010 tot 2012 gemaak het.

Verstappen se oorwinning verlede naweek op Silverstone vir Red Bull het hom in die tweede plek geplaas ná vyf wedrenne – een plek agter die verdedigende kampioen Lewis Hamilton – en ’n einde gebring aan Mercedes se oorheersing die afgelope ruk.

“Max was eenvoudig sensasioneel op Silverstone. Hy herinner my op baie maniere aan Michael Schumacher. Wanneer jy na hom oor sy radio luister, blyk dit duidelik dat hy oor spaarkapasiteit beskik,” sê Brawn, deesdae F1 se besturende direkteur van motorsport.

Sondag se oorwinning was die negende van Verstappen se loopbaan.

Die 22-jarige Nederlander, wie se pa, Jos, destyds Schumacher se spanmaat by Benetton was, was reeds die jongste wenner in die geskiedenis van F1.

“Die renmotor se beperkings is nie Max Verstappen se beperkings nie. Hy is in staat om die fynheid van die motor aan te voel en volmaak daarop te reageer. Ek onthou Max se begindae by Formule Een toe sy spoed duidelik was – maar hy het nou in ’n uitsonderlike renjaer ontwikkel,” sê Brawn.

Ross Brawn (regs) en Michael Schumacher in hulle tyd saam by Mercedes. Foto: Getty Images

“Ek was mal oor sy radiostroom, veral toe hy sê hy ‘wil nie soos ’n ouma bestuur nie’ toe die span gevra het dat hy sy bande spaar. Dit is ’n bewys van groot selfvertroue en verhoudinge in die span wat baie sterk is.”

Nico Hülkenberg het ook sy stempel afgedruk toe hy vir Racing Point se Sergio Pérez ingestaan het nadat die Meksikaan positief vir Covid-19 getoets is. Die ervare Duitser, wat verlede jaar by Renault die trekpas gekry het, het derde weggespring en sewende geëindig.

Volgens Brawn kon Hülkenberg se loopbaan baie anders gewees het.

“Ek het hom ook jare gelede gekontrakteer toe ek by Mercedes aan die stuur was. As Lewis hom nie op daardie tyd by Mercedes aangesluit het nie, was Nico ons volgende keuse,” sê Brawn.

“Ek het nog altyd enorme respek vir Nico as ’n renjaer. Hy is ’n baie sterk renjaer wat tuis sal wees in F1 en daar hoort.” – Reuters

Meer oor:  F1  |  Ross Brawn  |  Formule Een  |  Motorsport  |  Michael Schumacher  |  Max Verstappen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.