Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vettel skort Schumi se Ferrari-toorkrag

Bernie Ecclestone, voormalige grootbaas van Formule Een, sê dit was onvermydelik dat Sebastian Vettel Ferrari sou verlaat omdat hy nooit oor “dieselfde toorkrag” as Michael Schumacher saam met dié span beskik het nie.

Bernie Ecclestone en Sebastian Vettel. Foto: Getty Images

Vettel het in 2015 in sy Duitse landgenoot se spore gevolg en hom by Ferrari aangesluit. Maar waar Schumacher van 2000 – 2004 vyf wêreldtitels agtereenvolgens saam met die Italiaanse F1-span verower het, kon Vettel nog nie ’n enkele titel van sy eie wen nie. Sy beste vertoning saam met Ferrari was ’n tweede plek in 2017 en 2018, terwyl hy verlede jaar vyfde geëindig het en selfs deur Charles Leclerc, sy nuwe spanmaat, geklop is.

Vettel is veroordeel terwyl Leclerc geprys is en Ferrari het hom met ’n langtermynkontrak beloon. Vettel het slegs ’n kontrakverlenging van ’n jaar vir 2021 ontvang, maar die Duitser het dit van die hand gewys en die aanbod glo as ’n grap beskryf.

Ferrari het verlede week bevestig 2020 is Vettell se laaste seisoen by die Maranello-gesetelde span.

“Dit was onvermydelik dat Sebastian en Ferrari se paaie sou skei,” sê Ecclestone in ’n onderhoud met F1-insider.com.

“Daar was nooit dieselfde toorkrag tussen hom en Ferrari as tussen Michael Schumacher en die Italianers nie. Die span en sy bestuur het hulle nooit so sterk agter Vettel as agter Schumacher geskaar nie.”

Bernie Ecclestone saam met Michael Schumacher in 2001. Foto: Getty Images

Vettel se keuses vir volgende seisoen is beperk nadat Red Bull en Mercedes reeds sy dienste van die hand gewys het en McLaren ’n kontrak met Daniel Ricciardo gesluit het.

Ecclestone doen egter ’n beroep op Toto Wolff, grootbaas van Mercedes, om ’n ooreenkoms met die viermalige wêreldkampioen aan te gaan. Volgens die 89-jarige Brit sal dit vir uitstekende bemarking sorg.

“Mercedes moet in die huidige klimaat dit ernstig oorweeg om ’n Duitse held soos Sebastian te betrek,” sê Ecclestone.

“Dit kan ’n emosionele hupstoot aan werknemers besorg en ’n positiewe boodskap aan die buitewêreld uitstuur. ’n Vennootskap tussen Vettel en Mercedes sal in elk geval groot wees vir die Duitse span se eksterne betrekkinge.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Sebastian Vettel  |  Bernie Ecclestone  |  Michael Schumacher  |  F1  |  Formule Een  |  Ferrari  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.