Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Dit is 4 uit 4 vir Proteas in Liverpool!

Suid-Afrika se netbalspan het Maandagaand sy vierde agtereenvolgende oorwinning in die Wêreldbekertoernooi in Liverpool behaal. Die span lyk goed op koers na ’n plek in Saterdag se halfeindronde.

Ons is een! Izette Griesel en Khanyisa Chawane gryp albei na die bal in Suid-Afrika se Wêreldbeker-netbalwedstryd Maandagaand teen Skotland. Die Skotse speler is Sarah MacPhail. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Suid-Afrika kon laas in 1995 ’n WB-medalje wen. Hy het in 2015 se WB-toernooi in Sydney, Australië, vyfde geëindig.

Die Proteas sal Dinsdag ’n welverdiende rusdag geniet nadat hulle Skotland gerieflik met 66-38 geklop het.

Die tweede groepfase van die WB-toernooi het Maandag begin met die voorste drie spanne in die vier groepe wat nou groepe F en G gevorm het waar hulle sake sal uitspook vir ’n plek in Saterdag se halfeindronde.

Die eindstryd is Sondag.

Die plaasvervangers Renske Stoltz (hulpdoel), Izette Griesel (aanvallende vleuel) en Zanele Vimbela (hulpdoelverdediger) is beloon met plekke in die beginspan. 

Khanyisa Chawane het Bongiwe Msomi ná die eerste kwart op senter vervang. 

Die Proteas was stadig uit die blokke. Hulle het seker nog aan netbal-babelas gely ná hul spogsege Sondagaand oor Jamaika.

Alhoewel die Skotte aanvanklik mededingend was, het die Suid-Afrikaners gou-gou hul stempel afgedruk. Hulle het ná die eerste kwart met 15-10 voorgeloop en met die rustyd met 32-20. Die telling was 49-32 ná die derde kwart.

’n Mens het verwag die span sou meer kans kry om hul samespel op te skerp. 

Dit sou veral help dat Sigi Burger op doel kans kry om aan haar kombinasie met Stoltz te slyp, maar Burger is vanaf die derde kwart saam met Maryka Holtzhausen (hulpdoel) ingespan. 

Karla Pretorius het Vimbela vervang met laasgenoemde wat na hoofverdediger geskuif het.

Msomi het Griesel op aanvallende vleuel vervang, met Erin Burger terug in die middelkolletjie. Chawane het na verdedigende vleuel in die plek van Shadine van der Merwe geskuif.

Griesel verdien ook meer kans op aanvallende vleuel.

Suid-Afrika het Dinsdag ’n rusdag voordat hy Woensdag om 20:00 teen Uganda speel. Donderdag om 21:00 wag die groot vis, Engeland, voor sy fanatiese ondersteuners.

Chelsea Pitman van Engeland rank hoog in haar span se wedstryd Maandag teen Jamaika. Die Rose het die Sunshine Girls met 56-48 geklop.Foto: Getty Images

Die M&S Bank Arena met sitplek vir 11 000 toeskouers sal dan uit sy nate bars, met alle kaartjies wat uitverkoop is. 

Die tuisspan het Maandag in sy grootste toets tot dusver met 56-48 met Jamaika afgereken.

Uganda het Trinidad en Tobago met 57-54 geklop.

Die voorste twee spanne in elke groep sal Saterdag in halfeindstryde meeding.

Maandag se uitslae:

Groep E: Sri Lanka 88, Singapoer 50

Samoa 55, Fidji 54

Groep F: Nieu-Seeland 79, Zimbabwe 36

Malawi 47, Noord-Ierland 43

Australië 91, Barbados 22

Groep G: Suid-Afrika 66, Skotland 38

Engeland 56, Jamaika 48

Uganda 57, Trinidad en Tobago 54

Dinsdag se program

Groep E: 

10:00: Fidji t. Singapoer

12:00: Sri Lanka t. Samoa

Groep F: 

16:00: Nieu-Seeland t. Noord-Ierland

18:00: Australië t. Malawi

20:00: Barbados t. Zimbabwe

Meer oor:  Netbal  |  Skotland  |  Proteas  |  Wêreldbekernetbal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.