
Die Protea-senter Izette Griesel laat loop Sondag die bal in Suid-Afrika se toets teen Uganda in die Velodrome in Bellville. Sy het haar 50ste toets gespeel. Foto: Gallo Images
Dit was net soos taai soos die Springbokke se kwarteindstryd teen ’n begeesterde Japan, maar die Proteas het agt punte in die sakkie.
Dit is nou die nasionale netbalspan, nie die sukkelende krieketspan doer in Indië nie.
Die Proteas is in Bellville op koers om Dinsdag as die kampioen in die Afrikabeker-toernooi aangewys te word nadat hulle Sondag vir Uganda, die verdedigende kampioen, net-net met 50-47 geklop het.
Hulle is nog onoorwonne in dié toernooi en moet nog net vir Kenia en Zambië uit die pad rol.
Die Proteas is die voorste span in Afrika en vyfde op die wêreldranglys.
Benewens Suid-Afrika en Uganda, is Zimbabwe, Zambië, Lesotho, Kenia en Malawi ook in aksie.
Suid-Afrika het die Malawiese Queens Vrydag met 56-51 geklop.
Dit is net die vyfde keer in die afgelope 25 jaar dat Suid-Afrika in dié toernooi speel.
Die Suid-Afrikaners was in 1995 (in Harare), 1999 (Johannesburg), 2010 (Pretoria) en 2013 (Blantyre, Malawi) die kampioene.

Stella Oyella van Uganda duik grond toe na ’n botsing met Izette Griesel. Foto: Gallo Images
Daarna het Suid-Afrika jaarliks die Diamantliga-reeks aangebied, waarheen Afrika-spanne ook genooi is. Die eerste toernooi was in 2012.
Die Proteas speel Maandag teen Kenia, wat hulle geen probleme behoort te besorg nie. Die Keniane kon nog net een wedstryd wen en het Sondag met 35-68 teen Zimbabwe verloor.
Hul laaste teenstander is die Zambiërs, wat ook nog net een keer kon wen. Hulle het dit met 42-70 teen Malawi ontgeld.
* Die Protea-senterbaanspeler Izette Griesel het Sondag in haar 50ste toets gespeel. Die 27-jarige Pretorianer het haar debuut in 2015 teen Skotland in Belfast gemaak.
* Maandag se program: 10:00: Uganda t. Malawi; 12:00: SA t. Kenia; 14:00: Zimbabwe t. Zambië; 16:00: Lesotho t. Malawi (SS 10 en 13).