Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Afsondering maak Serena ‘berserk’

Roem, rykdom en dekades van sukses is duidelik geen hulp teen die emosionele eise wat die koronavirus aan mense oor die wêreld heen stel nie.

Serena Williams. Foto: Getty Images

Dit blyk duidelik uit ’n TikTok-plasing deur die tennislegende Serena Williams, waarin sy sê die selfopgelegde afsondering waarin sy die afgelope twee weke weens die Covid-19-pandemie is, maak haar angstig en kort van draad.

Die grootste slagoffer van dié krapperigheid? Olympia Oha­nian, Williams se tweejarige dogtertjie.

“Aanvanklik het ek gedink dit sal my nie regtig raak nie. Toe word (die) Indian Wells(-toernooi) gekanselleer en ek dink oukei, dis snaaks. Ek gaan ’n bietjie aftyd hê en dit geniet,” sê Williams op TikTok.

“Maar toe lei een kansellasie tot nog een en nog een . . . Dit het alles gelei tot die angstigheid wat ek nou ervaar. Ek handhaaf nou al vir ’n lang tyd, omtrent twee weke, ’n gesonde afstand van ander mense, en elke liewe ding dryf my van my kop af.

“Ek is angstig, en daarmee bedoel ek kort van draad. Die oomblik as iemand om my nies of hoes, raak ek berserk.

“En ek is nie tussen mense nie, so wanneer ek na iemand verwys, praat ek van my dogter.

“Wanneer sy hoes, word ek kwaad en gluur haar aan. Ek gee haar ’n vuil kyk en dan voel ek sleg. Ek weet nie wat om te doen nie, so pleks dat ek ontspanne is, ervaar ek regtig baie stres,” sê Williams.

Daar is vroeër die week aangekondig dat daar geen toernooie voor Junie sal wees nie, en dat die kleibaanseisoen afgelas is. Wanneer Williams dus weer ’n tennis-uitdaging sal hê om haar aandag af te lei, is ’n ope vraag.

* Williams is nie die enigste sportster wat uit vrye keuse in selfisolasie is nie.

Formule Een se wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het gister op Instagram gesê hy is in afsondering al het hy geen simptome van Covid-19 nie.

Dit nadat hy op 4 Maart by ’n funksie in Londen skouers geskuur het met die Hollywood-akteur Idris Elba en Sophie Trudeau, die vrou van Kanada se premier.

Elba en Trudeau het sedertdien positief getoets vir Covid-19.

“Ek wou almal laat weet dit gaan goed met my, ek voel gesond en oefen twee keer per dag. Ek het geen simptome nie en dit is nou 17 dae sedert ek Sophie en Idris gesien het,” het Hamilton op Instagram gesê.

* Drie spelers van die Engelse sokkerspan Portsmouth is ook agter geslote deure – maar in hulle geval het hulle nie ’n keuse nie. Sky Sports berig dat James Bolton, Andy Cannon en Sean Raggett die afgelope week positief vir Covid-19 getoets het.

“Sokker is nie immuun teen die virus nie en ek kan almal verseker (die omvang daarvan) tref jou eers wanneer iemand wat jy ken dit kry,” het Portsmouth se uitvoerende hoof, Mark Catlin, gesê. – Sportredaksie

Meer oor:  Koronavirus  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.