Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Visser val uit kryt toe tou breek

Die Suid-Afrikaanse swaargewigbokskampioen, Ruann Visser, kon nie Maandag sy titel in Kampsbaai teen Tian Fick verdedig nie omdat die kryt gebreek het.

Volgens Visser se pa, Nefdt, wat ook sy bestuurder is, het die kampioen sy knie sodanig in dié fratsongeluk beseer dat die geveg nie kon plaasvind nie.

Ruann Visser en Tian Fick sal maar weer moet probeer om teen mekaar te boks nadat die kryt Maandag gebreek het waar hulle mekaar sou pak. Foto: Facebook

“Ruann het in die kryt geklim en die toue getoets. Toe breek ’n tou en hy val uit die kryt,’’ het Visser sr. gesê.

“Ons is kleedkamer toe terwyl die kryt reggemaak is. Toe die dokter Ruann ondersoek en sien hoe geswel sy knie is en hoe blou sy boude is, het hy geweier om toe te laat dat die geveg voortgaan.”

Die geveg sou in die Hoërskool Kampsbaai se saal plaasgevind het. Visser sr. het gesê hy is glad nie tevrede met hoe dinge verloop het nie en sal die saak verder voer.

In Oos-Londen het dinge ook nie 100% verloop by ’n toernooi in die Internasionale Konferensiesentrum nie.

Gideon Buthelezi kon nie sy junior kapokgewigtitel van die Internasionale Boksorganisasie (IBO) daar teen Alexandru Marin by dieselfde toernooi verdedig nie aangesien die Roemeen glo siek was.

Die Oos-Kaapse oud-stryder Nkosinathi Joyi het darem vir ’n ligpunt op ’n vreemde Maandag gesorg.

Joyi het die IBO se vakante strooigewigtitel teen Joey Canoy van die Filippyne gewen.

Joyi, wat sewe jaar gelede sy titel van die Internasionale Boksfederasie verloor het, het skitterend geboks om met punte oor 12 rondes baas te wees.

Nkosinathi Joyi was Maandag op sy stukke in Oos-Londen en het weer ’n IBO-titel gewen. Foto: Gallo Images

Die werksverrigting van albei boksers was prysenswaardig met die 36-jarige Joyi wat sy teenstander, wat 10 jaar jonger as hy is, ’n les of twee geleer het.

Dit was Joyi wat die meeste houe geslaan het. Hy het sy langer arms goed gebruik om die oorwinning te verseker.

Canoy was egter altyd gevaarlik en het veral in die laaste vier rondes met ’n paar woeste aanvalle gekom.

Woes, ja, want hy het soms met sy linkers en regters laat waai asof hy ’n bouler is wat ’n krieketbal paaltjies toe stuur.

Joyi het die houe goed verduur en omtrent nie ’n tree terug gegee nie.

In nog ’n internasionale geveg in Oos-Londen het Fernando Martinez van Argentinië vir Athenkosi Dumezweni met ’n tegniese uitklophou in die 11de ronde verslaan.

Martinez het Dumezweni in die tiende ronde ook platgeslaan. Hy het sommer nog ’n hou of twee ingekry toe Dumezweni reeds op die planke was.

Toe die skeidsregter die geveg stop, het Martinez sommer op die krytvloer gaan sit en die planke ook ’n paar houe gegee.

Duidelik ’n aggressiewe mannetjie. En ook nou die houer van die Wêreldboksraad se silwertitel in die super-vlieggewig.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Boks  |  Nkosinathi Joyi  |  Ruann Visser  |  Tian Fick
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.