Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vleis se lewe van glorie én tragedie
Vleis Visagie se lewe van glorie én tragedie

"Die Here het gegee en die Here het geneem,” lui ’n teksvers uit die Bybelboek Job.

Rudie “Vleis” Visagie, die reuse-Springbokslot wat sowel die Vrystaat as Natal verteenwoordig het, ken daardie teksvers. En dit som sy lewensopvatting op.

Vleis Visagie rol voort op die rugbyveld. Van links is Freek Burger (skeidsregter) en dan die Vrystaters Pote Human, Ruben Kruger en Cheese van Tonder. Foto: Argief

Die Visagies het sowat 17 jaar gelede ’n bykans onnoembare gesinstragedie beleef. Visagie het in die vroeë oggendure van 23 Mei 2004 sy 19-jarige dogter, Marlé, vir ’n motordief aangesien en haar doodgeskiet.

“Dit was en is steeds baie moeilik,” sê Visagie (61). “Die ergste is dat ’n mens niks daaraan kan doen nie.

“Ek en Frieda (Visagie se eggenoot van die afgelope 38 jaar) het mettertyd tot die besef gekom dat dit wat gebeur het, deel van ons lewens is. Dit sal nooit weggaan nie, en die seer sal altyd daar wees.

“Dus gesels ons oor en onthou ons die mooi dinge, en hanteer elke dag soos dit kom. Slegs die genade van die Vader kan ’n mens daardeur help.

“As ek nie daaraan kon vashou nie. . .

“So kom ’n mens ook verby die punt van selfverwyt. Dit het gebeur. Jy moet aangaan met die lewe. Ons almal gaan in ’n stadium deur een of ander trauma.

“Die vraag is net hoe hanteer jy dit? Alleen? ’n Mens kan nie.

“Gelukkig is die Woord so ryk, dit help ongelooflik baie. As ek net kyk na Job wat alles, insluitend sy kinders, verloor het en tóg steeds vasgeklou het aan die Vader. . . Dit gee my moed.”

Rudie en Frieda Visagie deurkruis die land die afgelope sewe jaar reeds in hul woonwa om die Woord op manne- en vroueontbyte te bedien, terwyl hy ook gereeld optree by “Bok-en-biltongaande”.

Vleis en Frieda Visagie op Marlé (inlas) se begrafnis. Foto: Argief/Lisa Skinner

“Ek is betrokke by Dawie Spies se Manne van die Woord-organisasie, saam met ander Bokke soos Ollie le Roux, Jannie de Beer en Pierre Spies,” vertel Visagie.

“Ons gesels met die manne. En hulle raak emosioneel.

“ ’n Mens kan hoor hoe die ouens stil raak en luister, ’n groot saal vol manne, as jy vir hulle vra: ‘Wie se pa het vir jou kleintyd ’n druk gegee en gesê hy is lief vir jou?’

“Nie een ou steek sy hand op nie. Die ding is, ons kom uit ’n agtergrond van ‘cowboys don’t cry’. Dis hoe ons opgevoed is.

“Baie ouens daar buite het seer en die grootste seer is verwerping.

“Pa’s is geneig om dit as vanselfsprekend te aanvaar dat hul seuns weet dat hulle lief is vir hulle. Seuns wil egter erkenning hê.

“Ek het geleer om vir my seun ’n druk te gee en te sê ek is lief vir hom. Dit het ons hele verhouding verander.”

Gary Visagie (2,03 m) is selfs nog langer as sy beroemde pa (1,98 m) en het drie seisoene rugby in Reggio Calabria, Italië, gespeel.

“Nadat hy teruggekeer het, het Gary ’n verkoopsbestuurder vir die Penta Motorgroep in Klerksdorp geword en hy trou in September. Hy is 34, so dis hoog tyd.

“Ek soek ’n kleinkind. Ek sien verskriklik uit daarna om oupa te word.

Master, I’m looking for a big boer; I want to win the Currie Cup.

“As kleuter was ek my oupa Roelf se blue-eyed boy. Dit was lekker om sulke aandag te kry en hy was my held. Ek wil my kleinkinders ook so bederf.”

Oupa Roelf is oorlede toe Visagie ses jaar oud was en hy kon nooit sy kleinseun se prestasies op die rugbyveld volg nie.

Rudolf Gerhardus Visagie, gebore op 27 Junie 1959 in Nelspruit, het aan die Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier skoolgegaan en Suidoos-Transvaal in 1977 in die Cravenweek in Oudtshoorn verteenwoordig.

“Ná matriek is ek vir my militêre diensplig na 5 SAI in Lady­smith, Natal, opgeroep,” onthou hy, en dit is waar sy bynaam ontstaan het.

“ ’n Onderkorporaal het my ‘Vleis’ begin noem, maar ek was allesbehalwe (vol vleis); ek was wel lank, maar skraal. Almal, insluitend die kommandant, het dit gehoor en ek sal seker graf toe gaan met die naam.”

Interessant genoeg het Visagie, benewens in diskusgooi en gewigstoot, in skole-atletiek ook in die middelafstande uitgeblink.

“In die weermag het ek die gevreesde 2,4 km in 7 minute en 45 sekondes voltooi, en dit met volle kit en ’n R1-geweer.

“Ná ’n paar maande se opleiding is ek ingelig dat kmdt. Faan Grobler van die Genieskool in Betlehem my by 5 SAI vir twee Unimogs (weermagvoertuie), met sleepwaens, ‘gekoop’ het.

“Nadat die Geniespan aan ’n Weermagweek in Potch deelgeneem het, is ek weer ‘op orders’ geroep. Dié slag is ek meegedeel dat ek moes uitklaar by Genieskool, in my kar moes klim en Bloemfontein toe moet ry, waar ek by 1 Valskermbataljon deur kmdt. Archie Moore ingewag sou word.

“Ek sou, terloops, daardie aand ook Vrystaatproewe speel.

“So het ek, saam met ouens soos Danie Gerber en wyle Kobus Kirsten, by die Parabats beland en vir Vrystaat begin speel.”

Dit was 1980 en oor die daaropvolgende ses jaar sou Visagie se reusagtige figuur ’n instelling in die Vrystaat-skrum word.

Boonop het hy in 1984 vier keer vir Suid-Afrika uitgedraf, twee keer teen onderskeidelik Engeland en die Suid-Amerikaanse Jaguars.

Ná meer as 100 wedstryde in die Vrystaat-trui het Visagie iewers in 1986 ’n oproep van ene Ian McIntosh, afrigter van die destydse Natal ontvang.

“My Engels was nie wat wonders nie,” vertel Visagie. “Maar ek sal Mac se woorde nooit vergeet nie: ‘Master, I’m looking for a big boer; I want to win the Currie Cup.’

“Toe ek kliek wat hy bedoel, het ek geantwoord: ‘Mac, yes, I’ll be honoured to play for Natal.’

“Ek het by die Harlequins-klub op die Bluff ingeskakel, en ek en Frieda het in ’n spoorweghuisie in Ettrickweg, Wentworth, gebly. Dit was goeie tye.

“Almal het geweet waar ‘Vleis’ bly. By die huis met die lang braaier.”

Hulle is op die hande gedra.

“Ek het my tydperk in Durban heelwat meer geniet as by die Vrystaat.”

Swaarste Bok van alle tye

Visagie het in 1993 teen Frankryk die swaarste Bok van alle tye geword toe hy die skaal op 138 kg getrek het. Só vergelyk hy met ’n paar ander bielies.

138: Vleis Visagie

136: Thomas du Toit

135: Os du Randt

133: Flippie van der Merwe

Visagie het die kern gevorm van McIntosh se “meesterplan” om ’n makro-pak saam te stel wat Natal uiteindelik in staat sou stel om vir die eerste keer in 100 jaar die Curriebeker in te palm.

“‘Rudie, I promise you, in five years’ time we’ll win the Currie Cup,’ het Mac gewaag kort ná my aankoms in Durban in 1987. Toe doen ons dit in vier jaar.

“Alle eer kom Mac toe. Hy het in daardie glorie-era van Natal die kitaar geslaan.

“Almal het hom geniet, want Mac was ’n mens-mens. Wat van hom ’n uitsonderlike coach gemaak het, is dat hy elke speler goed geken en presies geweet het hoe om elkeen individueel te hanteer.

“Hy het byvoorbeeld geweet dat hy met my moes mooipraat, terwyl ’n ander ou miskien effens meer hardhandig gehanteer moes word.

“Mac was ook ’n afrigter wat spelers se mening in ag geneem het en ek het vreeslik daarvan gehou.

“Dit was, per slot van sake, die sleutel tot Natal se sprokiesverhaal in 1990 – ons het saam besluit op ’n plan van aksie en dit deurgevoer.”

Benewens Tony Watson se wendrie, is die ander groot herinnering van daardie Curriebeker-eindstryd tussen Natal en Noord-Transvaal op Loftus Vers­feld die oomblik toe die grote Visagie ’n verskrikte Freek Burger, skeidsregter, meters hoog in die lug opgetel het nadat die eindfluitjie geblaas het. Natal het met 18-12 gewen.

“Ek was so oorweldig deur die emosie dat ek die naaste ou gegryp het, en dit was toevallig die ref!”

Vleis Visagie hou tot vandag toe die SA rekord vir die speler met die meeste provinsiale wedstryde, 252.

So kom ’n mens ook verby die punt van selfverwyt. Dit het gebeur. Jy moet aangaan met die lewe. Ons almal gaan in ’n stadium deur een of ander trauma.

Slegs Helgard Müller met 245 wedstryde vir Vrystaat het al naby sy rekord gekom.

Toe Visagie sy loopbaan in 1996 by Suidoos-Transvaal afgesluit het, het hy 298 eersterangse wedstryde op sy kerfstok gehad, wat in daardie stadium ’n rekord was.

Die einste Müller het die rekord in 1998 geëwenaar en dit is later deur Ollie le Roux verbeter.

Slegs Victor Matfield en Albert van den Berg (338) het meer eersterangse wedstryde op slot gespeel. In sy provinsiale loopbaan het hy 109 wedstryde vir sowel Vrystaat as Natal gespeel.

In 1984 het hy Springbok geword en het hy in twee toetse teen Engeland en twee teen Suid-Amerika en Spanje gespeel.

Ná ’n afwesigheid van nege jaar het Visagie eers weer in die eerste toets teen Frankryk gespeel voordat hy saam na Australië getoer het.

Meer oor:  Albert Heenop  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.