Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vooruitsigte vir netbal in 2020 ál skraler

Die Suid-Afrikaanse netbal-kampioenskapstoernooi sal beslis nie vanjaar in die Wes-Kaap plaasvind nie.

Die netbalspan van Tshwane sou in Augustus in Stellenbosch sy titel in die nasionale kampioenskapstoernooi verdedig het. Die Noord-Gautengers het in verlede jaar se eindstryd in Johannesburg met Dr. Kenneth Kaunda afgereken. Foto: Gallo Images

Dié toernooi was geskeduleer om vroeg in Augustus by die Universiteit Stellenbosch beslis te word. Weens die Covid-19-pandemie is dit bitter onwaarskynlik dat die toernooi dán gehou sal kan word.

Ook Netbal Suid-Afrika (NSA) se tweede opsie van 2 tot 8 Desember sal nie haalbaar wees nie. Netwerk24 verneem dat geen van die Maties se sportgeriewe vanjaar beskikbaar sal wees nie.

Die kans dat die toernooi trouens vanjaar by enige universiteit gaan plaasvind, is skraal. Net ’n handjievol personeel, dosente en studente word op kampusse toegelaat.

Om die waarheid te sê, dinge lyk maar bleek wat netbal in 2020 betref.

Behalwe die situasie by universiteite, is die Wes-Kaap ’n brandpunt wat Covid-19-infeksies betref.

Mami Diale, NSA se direkteur van afbakening en strukture, het onlangs gesê hulle sal tot einde Julie elke provinsie se infeksiekoers monitor.

Netbal-aksie kon vanjaar weens die pandemie nog glad nie aan die gang kom nie.

NSA wil graag sy verpligtinge teenoor sy hoofborge, Spar en Telkom, nakom met die aanbied van die Spar nasionale toernooi, asook Telkom se Nasionale Liga.

Die Nasionale Liga vir streekspanne moes op 8 Mei begin het. Die huidige voorstel is dat dit op 28 Augustus begin en tot 31 Oktober duur, met opsie twee van 16 Oktober tot 19 Desember.

Die aanvanklike plan was om wedstryde in Durban, Polokwane en Kaapstad te speel. Sou dié reeks wel plaasvind, sal dit nou in een stad moet gebeur.

Die vlak 3-inperking bring skrale troos vir netballui.

Spelers kan van Maandag enige tyd buite oefen, maar nie in groepe nie en gimnasiums bly gesluit. Die seisoen sal eers op vlak 2 mag begin, met nasionale, provinsiale en distriks-oefenkampe en oefensessies in spanverband.

Provinsiale en nasionale sport en reise sal eers op vlak 1 moontlik wees.

Al dié beperkinge laat rolspelers wonder of daar vanjaar hoegenaamd netbal gespeel gaan word.

Sou reise wel toegelaat word, sal spelers nie nou geld hê vir deelname aan die kampioenskapstoernooi nie.

Spelers en afrigters betaal uit hul eie sak om daaraan deel te neem. Die spelers sal ook nie verlof hê om vir Nasionale Liga-wedstryde te reis nie.

Studente en onderwysers sal tot in Desember besig wees met die akademie en daarna begin die vakansie.

NSA het wel reeds gesondheidsriglyne en veiligheidsbeleide opgestel, wat gevolg sal moet word wanneer die spel hervat.

Spelers sal handreiniger gereeld moet gebruik en die bal sal ná elke kwart ontsmet word. Elke span moet ’n termometer hê en elkeen wat die stadion of baan betree, se koors moet gemeet word.

Geen handdrukke, drukkies, “high fives” of kringetjies sal toegelaat word nie.

Ysbaddens sal ook nie toegelaat word nie. Klere, handdoeke en waterbottels mag nie gedeel word nie.

Spelers, beamptes en afrigters moet maskers dra totdat hulle op die baan gaan.

Hulle sal voor en ná wedstryde dadelik na hul hotel moet terugkeer.

* Die Maties sou einde Junie ook gasheer gespeel het vir die Ussa-toernooi, wat intussen afgelas is.
Meer oor:  Nsa  |  Netbal  |  Netbal Suid-Afrika  |  Nasionale Liga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.