Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vroue ‘moet stilbly’ oor transgenders

Die voormalige Olimpiese gewigopteller Tracey Lambrechs sê vroue word beveel om “stil te bly” wanneer hulle kla oor die regverdigheid van die transgender Nieu-Seelandse atleet Laurel Hubbard se deelname in vrouekompetisies.

Tracey Lambrechs sê vroue word beveel om stil te bly wanneer hulle die kwessie van transgender gewigoptellers wil bespreek. Foto: Getty Images

Hubbard is op koers om die eerste transgender atleet te word wat in die Olimpiese Spele meeding nadat die Internasionale Gewigoptelvereniging (IWF) Woensdag die kwalifiseringsvereistes vir die sportskouspel in Tokio aangepas het.

Die 43-jarige Hubbard moet glo nog haar fiksheid aan die Nieu-Seelandse Olimpiese Komitee (NZOC) bewys voordat sy vir die span oorweeg word, maar die vooruitsig dat sy aan die Spele kan deelneem, het reeds groot omstredenheid veroorsaak.

“Ek is werklik teleurgesteld vir die vroueatleet wat haar plek in die span sal verloor,” sê Lambrechs, wat ’n bronsmedalje vir die Kiwi’s op die Statebondspele in 2018 verower het.

“Ons is voorstanders van gelykheid vir vroue in sport, maar tans word ons daardie gelykheid ontneem.

“Daar is vrouegewigoptellers wat my nader en vra: ‘Wat moet ons doen? Dit is onregverdig, wat moet ons doen?’ Ongelukkig is daar niks wat ons kan doen nie, want elke keer wat ons iets daaroor sê, word ons beveel om stil te bly.”

Laurel Hubbard se moontlike deelname aan die Olimpiese Spele is ’n bron van groot omstredenheid. Foto: Getty Images

Hubbard het voor haar geslagsverandering in 2013 in die mansafdeling meegeding.

Sy is kiesbaar vir die Spele sedert 2015, toe die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) nuwe riglyne deurgevoer het wat transgender atlete toelaat om as vroue deel te neem mits hul testosteroonvlakke minstens 12 maande voor ’n kompetisie onder 10 nanomol per liter is.

Verskeie wetenskaplikes kritiseer hierdie riglyne en meen dit doen min om die biologiese voordeel te demp van diegene wat deur manlike puberteit is, veral wat been- en spierdigtheid betref.

Die IOK het Donderdag in ’n verklaring gesê hoewel hy hom tot inklusiwiteit verbind, hersien hy tans sy riglyne om die “waarneembare spanning tussen regverdigheid/veiligheid en inklusiwiteit/diskriminasie” in ag te neem.

“Die IOK werk aan nuwe riglyne om te help verseker dat atlete – ongeag hul geslagsidentiteit en/of geslagseienskappe – veilig en regverdig kan deelneem,” sê die beheerliggaam.

Die presiese kriteria vir transgender-deelname in elite-sport word deur die internasionale federasies bepaal en sommiges het reeds die IOK se riglyne aangepas.

Wêreldrugby het verlede jaar transgender spelers verbied om in elite-vrouerugby mee te ding weens kommer oor veiligheid.

Die NZOC sal na verwagting eers in Junie sy gewigoptelspan vir die Spele aanwys, maar die Kiwi’s se Olimpiese gewigoptelafrigter, Simon Kent, sê Hubbard voldoen aan die IWF se huidige kriteria.

“Die reëls is in plek, dit is die speelveld waarop ons meeding, so dit is hoe ons die saak gaan benader,” sê hy.

Australië se gewigoptelvereniging het gepoog om Hubbard te verhoed om in 2018 aan die Satebondspele in die Goudkus mee te ding, maar organiseerders het die versoek van die hand gewys.

Haar goue medaljes in die Suidsee-eilande-spele in Samoa in 2019, waar sy Samoa se Statebondkampioen, Feagaiga Stowers, uitgestof het, was ’n bron van groot omstredenheid.

Die Amerikaanse gewigoptelvereniging sê hy het geen probleem daarmee dat Hubbard aan die Spele deelneem nie. – Reuters

Meer oor:  Laurel Hubbard  |  Olimpiese Spele  |  Iok  |  Transgender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.