Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vuelta-titel gaan 8 j. ná toer aan Froome

Die beseerde Chris Froome, wat vanjaar se Tour de France op TV moet dophou, het Donderdag ’n aangename verrassing gekry om die pyn te help verlig.

Chris Froome in 2017 nadat hy die Vuelta a Espana gewen het. Hy spog nou met ’n tweede titel in dié fietstoer. Foto: Getty Images

Die Internasionale Fietsryunie (UCI) het aangekondig dat die 2011 Vuelta a Espana-titel aan hom toegeken word nadat die destydse wenner, Spanje se Juan José Cobo, weens opkikker-oortredings van sy kroon gestroop is.

Die 38-jarige Cobo, wat reeds uitgetree het, het nie geappelleer teen die UCI se besluit nie, wat die weg vir Froome (tweede in 2011 se Vuelta) gebaan het om as die nuwe kampioen aangewys te word.

Die UCI het bevind dat Cobo tussen 2009 en 2011 “abnormaliteite in sy biologiese paspoort gehad het” en gevolglik is hy terugwerkend geskors.

Dié besluit deur UCI beteken dat die geskiedenis ook bietjie herskryf moet word, want nou is Froome – en nie meer Bradley Wiggins nie – Brittanje se eerste wenner van ’n “Grand Tour” (’n term wat na die Tour de France, Vuelta en Giro d’Italia verwys).

Wiggins het die afgelope sewe jaar met dié onderskeiding gespog nadat hy die Tour de France in 2012 gewen het.

“Die Vuelta in 2011 was in baie opsigte my groot deurbraak in ’n fietstoer, so hierdie rooi trui (die trui wat die algehele voorloper en uiteindelike wenner van die Vuelta dra) is baie spesiaal,” het Froome in ’n verklaring gesê wat deur sy fietsryspan (Team Ineos) uitgereik is.

“Wat dit ekstra spesiaal maak, al is dit nou agt jaar later, is dat dit Brittanje se eerste oorwinning in ’n Grand Tour was. Ek is baie lief vir die Vuelta en het nog altyd ’n spesiale verbintenis met die Spaanse ondersteuners gehad,” het die 34-jarige Froome gesê.

Dié Brit, wat in Kenia gebore is en later skoolgegaan het by St. John’s in Johannesburg, spog nou met sewe Grand Tour-titels. Hy het die Tour de France al vier keer (2013, 2015, 2016 en 2017), die Vuelta (2011 en 2017) twee keer en die Giro (2018) ’n enkele keer gewen.

Wat Grand Tour-titels betref, trek hy nou gelyk met die Spanjaarde Alberto Contador en Miguel Indurain, asook die Italianer Fausto Coppi. Slegs Eddie Merckx (België, 11) en die Fransmanne Bernard Hinault (10) en Jacques Anquetil (8) het al meer sukses as Froome in die wêreld se mees prestigeryke fietstoere behaal.

Meer oor:  Vuelta A Espana  |  Chris Froome  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.