
Jennifer King het met haar aanstelling by Washington haar naam in die geskiedenisboeke verewig. Foto: Getty Images
Washington, die Amerikaanse voetbalspan wat in 2020 sy Redskins-naam laat vaar het weens klagtes deur drukgroepe vir minderheidsregte, het die NFL se eerste voltydse swart vroueafrigter aangestel.
NFL.com berig Jennifer King is die sport se tweede vrouehulpafrigter, met Lori Locust wat reeds deel is van die Tampa Bay Buccaneers se afrigtingspan.
King het verlede seisoen haar vakleerlingskap onder die Washington-hulpafrigter Randy Jordan gedoen.
Ron Rivera, Washington se hoofafrigter, sê King verdien die bevordering vir haar harde werk in ’n seisoen wat die span die uitspeelrondes gehaal het.
“Sy beskik oor al die vaardighede wat nodig is om voltyds by my personeel betrek te word,” sê Rivera in ’n verklaring.
“Sy is ’n harde werker, kommunikeer uitstekend en is ’n persoon van gehalte. King is altyd gretig om te leer en het baie gegroei sedert sy haar verlede seisoen hier aangesluit het.
“Ek weet sy sal voortgaan om ’n bate te wees. Sy het hierdie geleentheid danksy harde werk verdien. Die wêreld lê werklik aan haar voete.”
King, ’n sewemalige All-American-quarterback wat van 2006 tot 2017 vir die Carolina Phoenix se vrouespan gespeel het, spog ook met ervaring as ’n afrigter in vrouebasketbal.
Sy was die hoofafrigter van die Johnson & Wales Universiteitspan in Charlotte van 2016-’18 en is in 2018 as die afrigter van die jaar aangewys toe die span die Nasionale Kampioenskap gewen het.
Die voormalige tennisster Billie Jean King (76), ’n ikoon van die spel en lewenslange kampvegter vir maatskaplike geregtigheid en gelykheid, tel onder diegene wat King gelukgewens het.
– Sportredaksie