Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wayde ‘nael’ nou ook vir Laureus-span

Die sneltrein van Bloemfontein Wayde van Niekerk, Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer in die 400 m, is nou ook as Laureus-ambassadeur aangewys.

Die naelloper Wayde van Niekerk is nou ’n Laureus-ambassadeur. Foto: Verskaf

Hy sluit hom sodoende by ’n uitgelese groep plaaslike sportsterre – soos die nasionale vrouesokkerspan se afrigter, Desiree Ellis, die Bafana Bafana-legende Lucas Radebe, asook Springbok-rugbyspelers soos Jean de Villiers, Corne Krige en Bryan Habana – aan.

Van Niekerk, ’n boorling van Kraaifontein en neef van die Wêreldbeker-Springbokheld Cheslin Kolbe, het in 2009 as 17-jarige aan naellope begin deelneem.

In die dekade daarna het hy atletiekbane oor die wêreld heen aan die brand gehardloop.

Sy eerste groot slag was ’n Afrika-rekord in die 400 op die Wêreldbyeenkoms in Beijing in 2015. Sy 43.48 het ook aan hom die titel besorg.

In 2016 het hy die 107de atleet geword wat die 100 m in vinniger as 10 sekondes afgeblits het.

Na dié prestasie was hy die eerste naelloper nog wat die 100 m in minder as 10 sekondes, die 200 m in minder as 20 sekondes en die 400 m in minder as 44 sekondes afgelê het.

Die groot hoogtepunt was egter goud in die 400 op 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, ’n verbluffende vertoning wat boonop Michael Johnson se wêreldrekord van 1999 uit die boeke gevee het.

Die voorsitter van die Laureus Sport for Good-stigting in Suid-Afrika, Morné du Plessis, is in sy noppies met Van Niekerk se aanwysing as ambassadeur.

“Ons is so bly Wayde is nou amptelik deel van die Laureus-familie. Dit was ongelooflik om sy opgang op die atletiekbaan te beleef, maar veral ook om te sien watter effek sy vertonings op Suid-Afrikaners van alle ouderdomme gehad het.

“Hy het deur sy hele loopbaan ongelooflike karakter getoon, op en van die baan af, en ons sien uit na sy voortgesette bydrae in gemeenskappe reg oor Suid-Afrika,” aldus Du Plessis.

Dit was ongelooflik om sy opgang op die atletiekbaan te beleef, maar veral ook om te sien watter effek sy vertonings op Suid-Afrikaners van alle ouderdomme gehad het.

Van Niekerk het gesê die gewig wat die uitnodiging as ambassadeur dra, ontgaan hom nie.

“Dis ’n ongelooflike eer om lid van die Laureus-familie te wees, om myself te midde van soveel uitmuntende atlete te bevind.

“Dis ’n uitgelese groep, maar almal het dieselfde doel voor oë en dit is om ambassadeurs vir hierdie ongelooflike wêreldwye organisasie te wees, om te werk in gemeenskappe deur middel van sport, om mense se lewensomstandighede te verbeter,” het die blits Maandag in ’n Laureus-verklaring gesê.

“Ek is opgewonde om in te val by die Sport for Good-stigting en dadelik betrokke te raak by die spesifieke projekte waarvoor ek ’n passie het.”

Laureus Sport for Good is ’n internasionale liefdadigheidsorganisasie wat jong mense deur middel van sport en sportsterre inspireer om uitdagings soos geweld, diskriminasie en enige nadelige omstandighede te bowe te kom.

Sport for Good ondersteun tans nagenoeg 200 programme in 40 lande en Laureus het sedert sy ontstaan meer as R2,7 miljard vir sportontwikkeling ingesamel waarby meer as ses miljoen kinders en jongmense sedert 2000 gebaat het. – Sportredaksie

Meer oor:  Laureus  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.