Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
WB: Bal in Proteas se baan om te presteer

Dis Suid-Afrika se jaar van Wêreldbeker-toernooie.

Van Vrydag af is dit die beurt van Suid-Afrika se netbaltrots om te wys in hoe ’n mate hulle verbeter het.

Bongiwe Msomi, Suid-Afrika se netbalkaptein, vandeesweek met die wêreldtrofee. Foto: Getty Images

Daar is hoë verwagtinge van die sportliggaam, ouers, familie, vriende, borge en ondersteuners. Sommige mense glo die Proteas kan geskiedenis maak en die goue medalje wen in die 15de WB-toernooi in Liverpool, Engeland.

Maar kan die Proteas saam met die groot honde blaf?

Is hulle nou beter as hul vyfde plek in 2015 se WB-toernooi, op die wêreldranglys en by die Statebondspele verlede jaar?

Die tyd sal leer.

Die feit is 2019 se 12-tal is ’n ervare groep met gemiddeld 54 toetse op hul kerfstok. Hul kaptein sedert Augustus 2016 is Bongiwe Msomi, wat met 98 toetse op die rand van haar honderdtal staan.

Dan is daar die feit dat agt van dié 12 die laaste paar jaar ’n proesel van beroepsnetbal gehad het en saam en teen die wêreld se bestes gespeel het.

Gaan die hele span baat vind by die ondervinding wat Msomi-hulle oorsee opgedoen het?

Gaan die oorsese Proteas hul puik spelpeil vir hul spanne nog verder kan lig of is hulle wedstrydvoos ná ’n harde ses maande?

Netbal se skouspel is ’n kort, intense toernooi van tien dae, met wedstryde feitlik elke dag.

Jy moet dus uit die staanspoor op jou allerbeste wees.

Protea-groep
Erin Burger, Sigi Burger, Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Maryka Holtzhausen, Phumza Maweni, Bongiwe Msomi (k), Lenize Potgieter, Karla Pretorius, Renske Stoltz, Shadine van der Merwe en Zanele Vimbela.

Suid-Afrika se beginspan het die laaste paar jaar baie saamgespeel en sy selfvertroue het gegroei.

Netbal Suid-Afrika (NSA) het dié span (feitlik) alles gegee wat hulle nodig het vir welslae.

Daar is drie ervare afrigters. Dit is die vyfde WB-toernooi waarby Norma Plummer, hoofafrigter, betrokke is.

Haar Australiese spanne van 2007 en 2011 het die wêreldtrofee gewen.

Dié Aussie het die groep gekry wat sy wou gehad het – Suid-Afrika se beste 12 spelers.

Nou moet hulle haar en Suid-Afrikaanse ondersteuners beloon met sukses op die baan.

Die Proteas is in Groep C saam met Trinidad en Tobago, Fidji en Jamaika. Hulle begin hul veldtog Vrydag teen Trinidad en Tobago, tiende op die wêreldranglys.

  • Al die WB-wedstryde sal op SS 9 en SS 10 uitgesaai word.

  • TV: Vrydag 18:25 (SS 10; openingseremonie om 16:00).
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.