Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
WB-netbal: Aussies wen riller teen Kiwi’s

Vir wie sien Suid-Afrika kans?

Die vraag sal Donderdagaand beantwoord word wanneer die Proteas die Engelse Rose in ’n Wêreldbeker-netbalwedstryd die stryd aansê.

Caitlin Bassett van Australië en Casey Kopua van Nieu-Seeland Donderdag in ’n verbete stryd om balbesit. Foto: Getty Images

As die Suid-Afrikaners vir Engeland klop, eindig hulle eerste in Groep G en pak hulle Nieu-Seeland in hul heel eerste halfeindstryd.

Verloor hulle teen die Engelse, wag Australië, die verdedigende kampioen, wat Donderdag gewys het hoekom hy ’n 11-malige wêreldkampioen is.

Nieu-Seeland het sy alles gegee en in die tweede helfte soos ’n swart golf oor die baan gespoel, maar die Aussie “Diamonds” het net-net met 50-49 op hul agterente deurgeskraap.

Die Aussies eindig dus met 10 punte bo-aan Groep F. Hul teenstander in die halfeindronde is die naaswenner van Groep G – Engeland of Suid-Afrika.

Kragmetings tussen dié Tasmaanse bure lewer altyd skittertoetse op en Donderdag was geen uitsondering nie.

Dit was ’n eindstryd in die kleine, met albei spanne wat groot druk en taai toetse moes deurstaan.

Gina Crampton wen balbesit vir Nieu-Seeland met Joe Weston agter haar. Foto: Getty Images

Albei spanne het vanaf die eerste senterafgooi vuurwarm spel opgedis en was nie bang om aanvallende, hoërisiko-netbal te speel nie.

Die Aussies was ná die eerste kwart met 12-10 voor en met die rustyd met 28-22.

Die Kiwi-span is heeltyd geskommel. Net Laura Langman (senter) is nie vervang of geskuif nie. Maria Folau (doel) en Ameliaranne Ekenasio (hulpdoel) was aanvanklik saam in die doelsirkel.

Toe word Bailey Mes op doel ingespan en die Suid-Afrikaans-gebore Karin Burger kry kans op verdedigende vleuel om die Aussie-aanval te probeer inperk.

Die Kiwi’s het teruggeveg en die gaping laat krimp, maar die Aussies was ná die derde kwart steeds met vier doele voor – 40-36.

Sake het gelyk getrek met 49-49. Met twee en ’n half minute oor, is Folau weer opgestuur, maar die Aussies se Courtney Bruce (hoofdoelverdediger) het ’n bal gedeflekteer en die Kiwi’s het balbesit verloor. Net daarna het Folau misgedoel vir nóg ’n naelskraapse oorwinning vir die Aussies.

Bruce is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

* Saterdag se halfeindstryde is om 12:15 en 16:00 (SA tyd), met Sondag se eindstryd om 17:45.

Die Proteas moet egter eers Donderdag om 21:00 ’n Engelse rots uit die pad vee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.