Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
WB-terugblik: ‘Proteas kon eindstryd haal’

Verlede jaar dié tyd kon netbalaanhangers uitsien na tien dae se hoëoktaan-aksie tussen die wêreld se 16 spanne in die Wêreldbeker-toernooi.

Bongiwe Msomi (middel) troon uit bo Adean Thomas van Jamaika. Links is Maryka Holtzhausen, die Protea-hulpdoel. Foto: Getty Images

Nou, in ’n ongewone sportjaar, sal spelers en ondersteuners maar verlief moet neem met hoogtepunte op SuperSport.

Die WB-toernooi in Liverpool, Engeland, het Sondag ’n jaar gelede begin.

Die Proteas het vierde geëindig nadat hulle in vorige WB-toernooie vyfde of selfs laer geëindig het.

Bongiwe Msomi, Suid-Afrika se kaptein, sê dit was ’n “wonderlike ervaring”.

“Dit was waarskynlik een van ons beste vertonings nóg sedert Norma Plummer die afrigter geword het. Dit was puik dat ons dit op ’n groot byeenkoms soos die WB-toernooi kon doen.

“Dit is opwindend om te weet hoeveel méér ons kon bereik en hoe naby ons daaraan gekom het om in ’n eindstryd te speel,” sê Msomi.

Karla Pretorius, Suid-Afrika se onderkaptein, ontvang op 21 Julie 2019 haar trofee as Speler van die Toernooi van ’n verteenwoordiger van Vitality. Foto: Getty Images

Die Proteas se toernooi is bepaal deur ’n naelskraapse, maar puik oorwinning van 55-52 oor Jamaika op Sondag 14 Julie.

Die Sunshine Girls was toe tweede op die wêreldranglys en hul oorwinning met elf doele oor die Proteas in April 2018 by die Statebondspele was vars in die geheue.

Msomi sê op die Statebondspele het haar span die wedstryd in die laaste kwart verloor.

“Ons het daaroor gepraat dat ons die uitklophou moet kan plant. Ons het dit ontleed en Norma se planne was in plek. Dit het als in die WB-wedstryd bymekaar gekom,” sê Msomi.

Die Proteas het ná die eerste kwart met sewe doele voorgeloop en die voorsprong het hul gemoed gelig.

Msomi sê sy het nie aan die telling gedink nie, maar die proses. “Dit is wat ons geleer het: speel die wedstryd wat voor jou afspeel.”

Suid-Afrika het op 18 Julie met 47-58 teen ’n begeesterde Engeland verloor en sy onoorwonne vertoningslys prysgegee. Hy het egter steeds die halfeindronde gehaal.

Molly Rhone, toe die president van die Internasionale Netbalfederasie, oorhandig die WB-vlag aan Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika, as gasheer van 2023 se toernooi. Foto: Getty Images

Op 20 Julie het die Proteas skitterspel opgedis en die Aussies, die wêreldkampioen, se broeke laat bewe.

Msomi onthou haar span was in die laaste kwart vlugtig met een doel voor.

“As ek die video kyk, kan ek sien hoe paniek inskop onder die Aussies. Hulle weet nie wat aan hul spel haper nie.

“Daardie mededingendheid wat ons gewys het – ons kan baie trots wees daarop. Ons weet ons kan op daardie vlak meeding, ons moet net bestendig wees.”

Die Aussies het met 55-53 deurgeskraap en die Kiwi’s in die eindstryd gepak. Die Proteas moes in die uitspeelstryd om die derde plek wéér die Engelse Rose en hul tuisbrigade pak. Hulle het met 42-58 vasgeval omdat die stryd teen die Aussies hul liggaamlik en geestelik getap het.

Msomi sê haar span moes nie in die uitspeelstryd gewees het nie.

“Ons moes die knoop teen die Aussies deurgehak het en in die eindstryd gespeel het.”

Die ervare kaptein sê hul vierde plek is steeds ’n groot verbetering. “Om in ’n halfeindstryd te kon speel, dit is waarvoor jy speel. Ons moet dit nou stap vir stap neem.

“Maak nie saak wat die situasie tans in die wêreld is nie, jy as netbalspeler weet hoeveel werk jy moet insit om op daardie vlak te bly,” sê Msomi.

Die deelname in Liverpool was dié 32-jarige senterbaanspeler se derde WB-toernooi. Sy is vuur en vlam om in 2023 in Kaapstad in haar vierde skouspel uit te draf.

In ’n naelbyt-eindstryd het Nieu-Seeland met 52-51 teen Australië deurgeskraap.

Meer oor:  Netbal  |  Norma Plummer  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.