Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
WB-trofee wink vir Proteas, sê Maties-afrigter

Die Proteas is op koers om die wêreldtrofee te lig.

So sê Zanele Mdodana, ’n oud-Protea en die Maties se afrigter, in reaksie op Suid-Afrika se skitterende oorwinning Sondag oor Jamaika.

Karla Pretorius, SA hulpdoelverdediger, probeer ’n doelpoging van Shanice Beckford van Jamaika verhoed in Sondag se groepwedstryd. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Die Proteas het Jamaika, nr. 2 op die wêreldranglys, in hul laaste groepwedstryd in die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Liverpool met 55-52 geskok.

Mdodana sê die Proteas het nie hul fokus verloor of paniekerig geraak nie, maar met die basiese dinge volhard en by hul wedstrydplan gebly.

“Dit is wat Norma (Plummer, afrigter) hulle geleer het. Hoe om druk en nogmaals druk te weerstaan. Genot onder druk, noem sy dit,” sê Mdodana.

“Hulle het groot volwassenheid gewys en die oorwinning sou hul selfvertroue laat groei het.”

Dit was net Suid-Afrika se derde oorwinning oor Jamaika. Die vorige was in 1967 en in 2012 in Kingston, Jamaika.

Drie huidige Proteas – Bongiwe Msomi, Maryka Holtzhausen en Erin Burger – was Mdodana se spanmaat in die Kingston-sege.

Die toernooi het ná Sondag se groepwedstryde ’n tweede groepfase betree.

Die spanning was Sondag duidelik sigbaar op die gesigte van die Protea-plaasvervangers Izette Griesel en Khanyisa Chawane. Foto: Gallo Images | Reg Caldecott

Die voorste drie spanne in die vier groepe het Groepe F en G gevorm waar hulle sake sal uitspook vir ’n plek in Saterdag se halfeindronde.

Suid-Afrika, Engeland, Jamaika, Uganda, Skotland en Trinidad en Tobago is die spanne in Groep G.

Groep F is Australië, Noord-Ierland, Zimbabwe, Nieu-Seeland, Malawi en Barbados.

Suid-Afrika het Dinsdag ’n rusdag voordat hy Woensdag om 20:00 teen Uganda te staan kom en Donderdag om 21:00 teen Engeland.

Simnikiwe “Simi” Mdaka, ’n oud-Protea en SuperSport-ontleder, glo die Proteas sal die halfeindronde haal.

“Daarna is die bal in hulle baan. Ons kan na die top-drie deurdring,” sê sy.

“Dit is die mees gebalanseerde span wat ons nog ooit na ’n WB-toernooi gestuur het,” sê Mdaka.

Net twee doele sal die Proteas en die Engelse Rose skei, voorspel sy.

* Die tuisspan het Maandag in sy grootste toets tot dusver met 56-48 met Jamaika afgereken.

Australië en Nieu-Seeland se grootste uitdagings lê nog voor.

Die Aussie Diamonds het Zimbabwe met 79-36 geklop en Australië het met 91-22 oor Barbados geloop.

* Die Proteas het Maandagaand met groot gemak hul eerste wedstryd van die tweede groepfase teen Skotland met 66-38 gewen nadat hulle rustyd reeds met 32-20 voor was.

Meer oor:  Netbal  |  Jamaika  |  Wêreldbekernetbaltoernooi  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.