Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wie gaan volgende boks teen Manny?

Die bokswêreld is aan die gons oor wie die wonderbaarlike Manny Pacquiao se volgende teenstander kan wees ná sy merkwaardige oorwinning die naweek oor Keith Thurman in Las Vegas.

Op 40-jarige ouderdom is daar nog steeds geen keer aan die bokser-politikus Manny Pacquiao nie. Foto: Getty Images

Die 40-jarige Pacquiao, wat al wêreldkampioen in agt gewigsafdelings was, het die 30-jarige Thurman oortuigend verslaan om die Wêreldboksvereniging (WBV) se nuwe super-weltergewigkampioen te word.

Nou vlieg die name rond, maar die kans is goed dat Pacquiao eers teen die einde van die jaar sal aankondig teen wie hy volgende gaan boks.

As senator in die Filippyne is hy ’n besige man en het hy die afgelope paar jaar al minder kans gekry om aan gevegte deel te neem.

In 2016 het hy twee gevegte gehad, in 2017 net een en verlede jaar ook net een.

Pacquiao was vanjaar al twee keer in die kryt, nadat hy in Januarie ook met Adrien Broner afgereken het.

Teen die einde van sy kragmeting met Thurman het Pacquiao taamlik gedaan gelyk. Hy het dit wel reggekry om nog in sarsies punte in te samel, maar as die geveg langer was, was hy dalk in die moeilikheid.

Hy sal mooi moet dink voor hy besluit om teen die jong leeu Errol Spence te baklei. Spence, die Internasionale Boksfederasie se kampioen, en Shawn Porter, die Wêreldboksraad s’n, pak mekaar in September.

Die algemene verwagting is dat Spence sal wen. Hy is dalk die hardste slaner in die weltergewig-afdeling en Pacquiao se styl sal hom pas.

Die Britse bokser Amir Khan probeer glo ’n geveg teen Manny Pacquiao in Saoedi-Arabië vasknoop. Foto: Getty Images

Dis meer realisties om te verwag dat Pacquiao ’n makliker geveg teen iemand, wat darem ook ’n hoë profiel het, sal aanvaar.

Die Brit Amir Khan het onlangs daarop aanspraak gemaak dat hy reeds met die Pacquiao-kamp onderhandel vir ’n geveg. Pacquiao-hulle het dit toe ontken, maar moenie verbaas wees as so ’n geveg wel plaasvind nie.

Khan is steeds ’n groot naam en Pacquiao behoort hom taamlik maklik af te ransel. Daar was sprake dat só ’n geveg iewers in Saoedi-Arabië kan plaasvind en dit klink glad nie vergesog nie aangesien Khan reeds onlangs daar geveg het.

Dan is daar ook nog Danny Garcia. Hy is nes Khan ’n groot naam, maar beskik oor beperkte vernuf. Pacquiao behoort ook met hom te kan afreken.

Mikey Garcia (nie familie van Danny nie) is ook op soek na ’n geveg, maar hy kan ’n groter uitdaging as Khan of Danny Garcia wees, so dit sal ’n verrassing wees as Pacquiao hom kies.

Die WBR kan dalk ook besluit dat sy nommereen-aanspraakmaker op die titel, Alexander Besputin, volgende teen Pacquiao moet boks.

Net die tyd sal leer.

Meer oor:  Boks  |  Manny Pacquiao
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.