Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wiggins voorspel Tour-sege vir Thomas

Terwyl Egan Bernal, 2019 se Tour de France-kampioen, algemeen as een van die sterkste aanspraakmakers beskou word om vanjaar weer as wenner van dié prestigeryke skofwedren gekroon te word, kan die Brit Geraint Thomas stilletjies met die titel wegstap.

Die Brit Geraint Thomas op 2018 se Tour de France. Foto: Getty Images

Vanjaar se Tour begin op 29 Augustus in Nice en by Bradley Wiggins, wat 2012 se kampioen was, is daar geen twyfel nie dat Thomas vanjaar gaan wen.

Die 34-jarige Thomas, ’n Brit wat vir Ineos ry, het in 2018 koning gekraai, maar moes verlede jaar toekyk hoe sy spanmaat Bernal op die boonste trappie van die podium ná die laaste skof staan.

Thomas was toe tweede en Wiggins glo as ’n onverwagse haelstorm nie verlede jaar op die 19de skof toegeslaan het nie, sou Bernal nooit gewen het nie. Weens die haelstorm is dié skof aan die bopunt van die Col d’Iseran afgelas en Bernal, wat voorgeloop het in die skof, het die geel trui by die Fransman Julian Alaphilippe (Deceuninck-Quick-Step) oorgeneem.

“Verlede jaar was Geraint Thomas die verdedigende kampioen by die Tour de France en Bernal is toegelaat om te wen. Ek dink as die skof na Tignes verlede jaar voltooi is, sou Bernal ingegee het en Geraint sou gewen het,” sê Wiggins volgens cyclingnews.com.

“Dit gesê, omdat Bernal verlede jaar toegelaat is om die Tour te wen, toe Geraint die verdedigende kampioen was, moet dieselfde beginsel vanjaar geld en behoort Bernal nie outomaties die reg te hê om sy span se aanspraakmaker te wees nie. So die pad is oop vir Geraint om vanjaar te wen en eintlik, om die waarheid te sê, dink ek dit is presies wat hy gaan doen. Ek dink nie eens daar is ’n argument in sy span daaroor nie.”

Thomas was ’n suksesvolle baanfietsryer voordat hy besluit het om hom uitsluitlik op padfietsry toe te spits. Hy het in 2008 en 2012 goue medaljes by die Olimpiese Spele in baanfietsry verower.

Hy het in 2007 sy buiging in die Tour de France gemaak en het daardie jaar voorlaaste, 140ste, klaargemaak. Dit was 3 uur, 46 minute en 51 sekondes ná die wenner, Alberto Contador.

• Bernal het intussen sy seisoen op ’n hoogtepunt hervat deur die Route d’Occitanie, ’n wedren oor vier skofte, Dinsdag in Frankryk te wen. Chris Froome, viermalige Tour-kampioen, was ’n beskeie 37ste. – Sportredaksie

Meer oor:  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.