Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wilder moker mak Breazeale disnis
Deontay Wilder se regter kry koers na die uitdager, Dominic Breazeale, se kakebeen in Saterdagaand se eensydige geveg.Foto: Getty Images

Die onoorwonne Deontay Wilder het korte mette gemaak van Dominic Breazeale se aanslag deur die uitdager om sy swaargewigtitel van die Wêreldboksraad (WBC) sommer in die eerste ronde kisboude te slaan.

Die Amerikaner het Saterdagaand sy WBC-kroon in die wraakgeveg verdedig en het beswaarlik begin sweet voor hy, met nog 43 sekondes oor in die eerste ronde, met ’n enkele van sy gevreesde regterhaakhoue getref het.

Breazeale se knieë het geswik en op die naat van sy rug op die krytvloer het sy glasige oë die volle impak van die hou opgesom.

Wilder het net nadat die klok die begin van die geveg aangedui het, soos ’n swerm bye op Breazeale toegesak en hom met kombinasies gepeper.

’n Regter-opstopper het die uitdager seergemaak en hierna was dit net ’n kwessie van sekondes voordat Wilder dáárdie linker na sy ken gemik het.

“Toe ek hom vir die eerste keer met ’n regter tref, was dit asof sy liggaamstaal verander het. As jy lank genoeg in die kryt is, begin jy die tekens ken van ’n teenstander wat seergekry het,” het Wilder agterna verduidelik.

“Ek het instinktief geweet hy sal nie meer so op sy hoede wees nie, ek het gewag dat hy sy handskoene net effens laat sak. En toe dit gebeur, het ek die linker gegooi.”

Ek het gewag dat hy sy handskoene net effens laat sak. En toe dit gebeur, het ek die linker gegooi.
Deontay Wilder

Breazeale het beswaarlik ’n hou ingekry in die geveg en was so geskud ná die aanvanklike sarsie dat hy basies in Wilder se linker vasgeloop het.

Hy het vir tien tellings op die naat van sy rug gelê en toe half bedremmeld opgestaan voordat die skeidsregter hom na sy hoek gestuur het.

Die 33-jarige kampioen het met die sege sy rekord na 41-0-1 gerek, met ’n verbluffende 40 van die oorwinnings wat met tegniese uitklophoue behaal is. Dit was die negende keer dat hy sy titel suksesvol verdedig het.

Breazeale, daarenteen, wat in sy vorige geveg teen Anthony Joshua verloor het, se rekord is na dese 20-2, met 18 tegniese uitklophoue.

Daar is vooraf groot gewag gemaak van die wraakgeveg, met die uitgesproke Wilder wat selfs gesê het hy sal nie omgee as hy Breazeale in die kryt doodslaan nie.

Ofskoon daar dikwels in die grys gebied beweeg word met die aard van dreigemente voor ’n geveg, is Wilder se stelling wyd in die bokswêreld veroordeel.

Ofskoon daar dikwels in die grys gebied beweeg word met die aard van dreigemente voor ’n geveg, is Wilder se stelling wyd in die bokswêreld veroordeel.

Dit het selfs die WBR se president, Mauricio Sulaiman, genoop om te sê die bokser sal voor ’n komitee moet kom verduidelik hoekom hy so ’n makabere stelling gemaak het.

Wilder het agterna gesê die stelling is in die hitte van die voorstryd gemaak en die bedoeling was nie dat dit letterlik opgeneem moes nie.

Nadat hy sy swaargewigtitel vir die negende keer suksesvol verdedig het, is die Amerikaner nou in uitgelese geselskap saam met Muhammad Ali, Joe Frazier, Mike Tyson en Lennox Lewis.

Die rekord vir die langste verdediging van ’n swaargewigtitel is 25 en word deur die ikoniese Joe Louis gehou. - Reuters

Meer oor:  Deontay Wilder  |  Dominic Breazeale  |  Amerika  |  Kampioen  |  Boks  |  Swaargewig  |  Titelgeveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.