Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wilder se wilde aanspraak: Waar, wolhaar?

Is Deontay Wilder die hardste slaner wat daar nog was?

Luis Ortiz bekyk die advertensies op die krytvloer van nader nadat Deontay Wilder hom Saterdag in Las Vegas platgeslaan het. Foto: Getty Images

Ben Davison, die afrigter van Tyson Fury – teen wie Wilder volgende gaan boks – dink so.

“Hy is die hardste slaner nog, nie net in die swaargewigafdeling nie, maar in die boksgeskiedenis,” het Davison ná Fury se geveg Saterdag in Las Vegas teen Luis Ortiz aan ESPN gesê.

Wilder het Ortiz in die sewende ronde met ’n verskriklike regter uitgeslaan om sy swaargewigtitel van die Wêreldboksraad ’n tiende keer suksesvol te verdedig.

Wilder was egter agter op die telkaarte toe hy die Kubaan uitgeslaan het.

“Hy het soos iemand geboks wat geweet het daar wag ’n groter geveg op hom. Hy het nie kanse gewaag nie, maar het net vir die regte oomblik gewag om die uitklophou te plant,” sê Davison.

Davison het met sy woorde natuurlik goeie voorbrand gemaak vir Fury se geveg in Februarie teen Wilder.

Davison het wel rede om bekommerd te wees, want Wilder het immers in Desember 2018 so byna daarin geslaag om Fury uit te slaan.

By Wilder self is daar geen twyfel oor hoe hard hy kan slaan nie.

“Ek dink ek verdien dit om as die hardste slaner in boksgeskiedenis gerespekteer te word,” het die Amerikaner aan die BBC gesê.

“Ek doen wat ek doen. Dit kom nie uit die handleiding nie. Jy kan nie iemand leer om dit te doen nie en dit maak my uniek.”

Mike Tyson was self nogal ’n bulletjie op sy tyd. Hier verniel hy vir Tyrel Biggs in 1987. Foto: Getty Images

Wilder het 41 van sy 42 oorwinnings met uitklophoue behaal.

Twee van sy gevegte het 12 rondes geduur. In die een het hy Bermane Stiverne met punte verslaan en in die ander een het hy teen Fury gelykop geboks.

Volgens Wilder was die uitklophou in 2016 waarmee hy Artur Szpilka droomland toe gestuur het, sy “mees verwoestende” een nog.

“Ek het regtig gedink ek het hom doodgeslaan,” sê Wilder.

Natuurlik gons dit in die bokswêreld oor Wilder se aanspraak dat hy die hardste slaner is.

In die swaargewigafdeling was daar deur die jare uitklopkonings soos Rocky Marciano, Jack Dempsey, Joe Louis, Sonny Liston, George Foreman, Earnie Shavers en Mike Tyson, wat mense laat sidder het met hul slaankrag.

Thomas Hearns en Marvin Hagler was twee van die hardste slaners in die ligter gewigsafdelings. Foto: Getty Images

In die ligter gewigte het manne soos Thomas Hearns, Roberto Duran, Marvin Hagler, Archie Moore en Julio Cesar Chavez ook baie teenstanders met hul slaankrag verpletter.

Wanneer daar oor uitklopkonings gesels word, moet daar in gedagte gehou word dat verskeie uitklophoue die gevolg van ’n kombinasie van houe vooraf was.

Dis nie almal wat, soos Wilder, die krag en akkuraatheid het om ’n teenstander met een hou droomland toe te stuur nie.

* Kyk hier na nog ’n paar brutale uitklophoue wat verskeie ander boksers geplant het: 

Meer oor:  Deontay Wilder  |  Boks  |  Tyson Fury
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.