Deontay Wilder het sy swaargewigtitel van die Wêreldboksraad Sondag in Las Vegas vir ’n tiende keer suksesvol verdedig toe hy Luis Ortiz in die sewende ronde planke toe gestuur het.

Deontay Wilder. Foto: Getty Images
Dit het gelyk of die Amerikaner se oorheersing van die afgelope vyf jaar tot ’n einde sou kom met Ortiz wat hom laat bontstaan het.
Maar in die sewende ronde was dit Wilder se verwoestende regter wat Ortiz op die krytvloer laat beland het.
Ortiz (40) het daarin geslaag om op te staan, maar hy kon nie tot verhaal kom voordat hy uitgetel is nie. Sy gesig was deurtrek van skok, want Wilder het beswaarlik ’n noemenswaardige kombinasie van houe geslaan.
Daar sal vrae gestel word oor hoekom Wilder vir ses rondes maar bra flou gelyk het, maar hy het ’n reputasie opgehou as ’n bokser wat ’n verwoestende hou kan plant wanneer dit saakmaak.
Sy reguit regter waarmee hy Ortiz neergevel het, het die toeskouers langs die kryt in vervoering gehad.
Met sy oorwinning trek Wilder nou gelyk met Muhammad Ali, wat ook sy titel ’n 10de agtereenvolgende keer suksesvol verdedig het.
Slegs Tommy Burns (11), Vitali Klitschko (11), Wladimir Klitschko (18), Larry Holmes (20) en Joe Louis (25) was langer onoorwonne. – Sportredaksie