Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wilder ‘verklaar oorlog’ teen Joshua
Deontay Wilder skrik nie vir die huidige groep Britse swaargewigboksers nie. Foto: Getty Images

Die swaargewigkampioen Deontay Wilder het die naweek gesien hoe Anthony Joshua teen Carlos Takam wen, maar hy was nie beïndruk nie.

Joshua het sy swaargewigtitels van die Internasionale Boksfederasie (IBF), Internasionale Boksorganisasie (IBO) en Wêreldboksvereniging (WBV) suksesvol verdedig deur Takam met ’n tegniese uitklophou in die tiende ronde van hul geveg in Cardiff, Wallis, te verslaan.

Takam, ’n Fransman, het ’n moedige vertoning gelewer en Joshua moes harder spook as wat baie mense dalk verwag het om te wen.

“Nou is ek meer oortuig as ooit dat ek maklik sal wen as ek teen Joshua boks,” sê Wilder, die Wêreldboksraad (WBR) se kampioen, op Premier Boxing Champions se webtuiste.

Wilder verdedig hierdie Saterdag in New York sy eie titel teen Bermane Stiverne.

Hy het Stiverne al ’n vorige keer geklop en stel eintlik meer belang in die gevegte wat daarna vir hom beplan word.

Eddie Hearn, Joshua se promotor, het hom £3 miljoen (sowat R55 miljoen) aangebied om teen Joshua se Britse landgenoot Dillian Whyte te boks.

“Ek sal hom (Whyte) pak gee met my een hand agter my rug vasgebind,” sê Wilder.

Anthony Joshua (links) moes nogal spook om in die naweek in Wallis met Carlos Takam (regs) af te reken. Foto: Gatty Images

Hearn is duidelik ’n man met ’n plan. Hy wil die toutjies in die swaargewigafdeling trek.

As sy planne reg uitwerk, sal Joshua vroeg volgende jaar sy WBV-titel in ’n verpligte titelgeveg teen wie dan ook al die nommer een-aanspraakmaker is, verdedig.

Dan wil hy hê Joshua moet teen die Wêreldboksorganisasie (WBO) se kampioen, Joseph Parker van Nieu-Seeland, boks.

Eers dan wil hy hê Joshua en Wilder moet mekaar die stryd aansê.

“Die geld is op die oomblik in Brittanje (vir Joshua),” het Hearn aan AFP gesê. “Hy is baie gewild hier en lok duisende toeskouers. Maar as ons reg te werk gaan, kan hy nog meer geld in Amerika verdien.”

Die Britse boksentoesiaste is gaande oor Anthony Joshua en dink hy is die beste swaargewigbokser op die planeet. Die Amerikaners is weer bankvas agter Deontay Wilder. Foto: Getty Images

Iewers hoop Hearn om nog ’n Brit, die voormalige kampioen Tyson Fury, ook ’n titelkans te gee.

Intussen het Wilder, volgens hom, “oorlog teen Joshua verklaar”.

Hy sê hy hoop almal kyk hoe hy Saterdag met Stiverne afreken.

“Want dan kan hulle my vaardighede en krag met Joshua s’n vergelyk en sien dat ek die ware koning van die swaargewigafdeling is”, sê hy.

Meer oor:  Deontay Wilder  |  Boks  |  Swaargewig  |  Anthony Joshua
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.