Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wilhelm brul weer met boelie-taktiek

Wilhelm Nebe, wat in die naweek sy vierde uitklophou in vyf gevegte geplant het, begin al hoe meer aandag in plaaslike bokskringe trek.

Wilhelm Nebe het JP Steenkamp twee keer in die eerste ronde van hul geveg die afgelope naweek in Kempton Park planke toe gestuur. Foto: Gallo Images

Die wyse waarop die 25-jarige Nebe vir JP Steenkamp in die eerste ronde van hul geveg Saterdag by Emperors Palace in Kempton Park uitgeslaan het, laat ’n mens egter steeds ietwat versigtig om té opgewonde oor hom te raak.

Die jong reus – hy is twee meter lank en weeg 120 kilogram – se taktiek herinner mens baie aan dié van ’n laerskool-boelie.

In die kort tydjie wat hulle in die kryt was, het Steenkamp meer na ’n bokser gelyk as Nebe.

Die kleiner Steenkamp het Nebe heeltemal té maklik raakgeslaan. Nebe het egter gewys hy kan ’n harde hou verduur en hy sal dalk self ’n olifant kan droomland toe stuur met sy regter.

Alan Toweel, Nebe se afrigter, sê mense moet geduldig wees met sy bokser.

“Ek sal aanhou om hom stadig op te bou. Dis belangrik dat hy gereeld boks en dat hy aanhou wen. Maar hy moet natuurlik aanhou verbeter ook,” sê Toweel.

Wilhelm Nebe se geweldige aggressie en slaankrag maak hom ’n bokser om dop te hou. Foto: Gallo Images

Nebe het eenvoudig “deur Steenkamp se houe geloop” en Toweel besef dat hy sy verdediging sal moet opknap.

In die swaargewigafdeling gaan jy nie altyd deur almal se houe kan loop nie.

Toweel wil Nebe nie sommer gou saam met ’n baie ervare bokser in die kryt gooi nie.

Die probleem is, daar is nie juis baie swaargewigte in die land nie.

’n Tyd gelede het Toweel daaraan gedink om Nebe teen Josh Pretorius te laat boks.

Dis steeds ’n moontlikheid, hoewel dit dalk beter sou wees as Nebe eers teen twee of drie minder ervare manne baklei.

Voor sy geveg teen Steenkamp was Nebe in Oktober van 2019 laas in die kryt toe hy met punte oor vier rondes teen Danny Ngokwey gewen het.

Dit was nie een van Nebe se beste vertonings nie, maar met sy verwoesting van Steenkamp kan “The Dragon” – soos Nebe homself noem – met goeie rede maar weer brul.

• Toweel kon nie in die naweek in Nebe se hoek wees nie omdat hy vroeër positief vir die koronavirus getoets is.

Die afrigter sê egter hy voel goed en dat hy gelukkig nie baie siek is nie.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.