Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Wind en lastige bande knou Max se kanse

Max Verstappen (Red Bull) se Formule Een-veldtog het moontlik gister ’n knou gekry toe hy weens ’n glips in die derde plek gekwalifiseer het vir die Portugese Grand Prix.

’n Knorrige Max Verstappen gister ná kwalifisering. Foto: Reuters

Al die jaers het gesukkel met bandgreep op die baan in Portimão. Dit was moeilik om die rubber op die regte temperatuur te kry. Die feit dat sommige van hulle beter tye op medium bande as op sagte bande opgestel het, is ’n bewys van die stryd wat hulle gevoer het.

Boonop het rukwinde, wat gistermiddag kop uitgesteek het, sake baie vererger.

Verstappen het tydens die laaste kwalifiseringsessie weggevlieg, vol vertroue dat hy die Mercedes-jaers, Lewis Hamilton en Valtteri Bottas, sou kon klop.

Blykbaar het ’n rukwind die jong Nederlander se motor op die hoogste punt van die baan van agter getref en hy moes die stuurwiel rondpluk om koers te hou. Dit het daartoe gelei dat hy net-net die baanoppervlak verlaat het.

Sy beste rondte, wat hom die touleier-posisie sou besorg het, is gevolglik deur die beamptes geskrap en hy moes weer probeer om ’n beste rondte op te stel. Maar hy kon nie daarin slaag nie.

Albei Mercedes-jaers het beter gevaar.

Bottas, wat tot dusver vanjaar sukkel om by te bly by Hamilton en Verstappen, het verras deur die vinnigste tyd (1:18.348) op te stel. (Verstappen se verlore rondte was 1:18.209 – byna ’n tiende van ’n sekonde vinniger.)

Hamilton, wat sewe duisendstes van ’n sekonde stadiger as Bottas was, spring tweede weg en sal moet wag voordat hy sy honderdste voorste wegspringplek kan aanteken.

Hy en Verstappen het die lourierkranse in die eerste twee renne van die jaar gedeel.

Met een oorwinning elk, is daar slegs een punt verskil tussen die twee. Hamilton loop voor met 44 punte.

Lewis Hamilton Foto: Getty Images

“Om eerlik te wees, het ek hierdie hele naweek nog nie een enkele rondte geniet nie,” het Verstappen gesê.

“Dis alles die baan se toestand se skuld. Ek bedoel, die uitleg is ongelooflik, maar ons beleef ’n algehele gebrek aan bandgreep. Ek weet dit is dieselfde vir almal, maar vir is dit regtig onaangenaam agter die stuurwiel.”

Sy teleurstelling is te verstane. Dit wil voorkom of die Red Bull-span sy sake in orde gekry het en of sy motors vanjaar veel vinniger is. Daarom is die verwagting groot dat Verstappen meer renne gaan wen as verlede jaar se twee en dat hy Hamilton se kampioenskapsplanne deurmekaar kan krap.

Verstappen se spanmaat, die Mexikaan Sergio Pérez, spring in die vierde plek weg.

Carlos Sainz jr. lyk ook reeds baie gemaklik in sy rooi oorpak. Ferrari se nuwe jaer vir 2021 het die vyfde vinnigste tyd opgestel, wat die Italiaanse span sekerlik nuwe moed sal gee ná verlede jaar se gemors.

Sainz, seun van die tydrenlegende Carlos Sainz, het gesê hy hou van glibberige baantoestande.

“Dis in my aard.”

Nog iemand wat rede het om te glimlag, is die voormalige kampioen en Ferrari-jaer Sebastian Vettel.

Hy het vir die eerste keer in 16 renne die toptien tydens kwalifisering gehaal in sy Aston Marton (voorheen Racing Point).

Meer oor:  Formule Een  |  Max Verstappen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.