Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Witwarm Weiss swem, trap en draf in Kaap
Die Stellenbosser Bradley Weiss in aksie by die Xterra-SA byeenkoms in Februarie in Grabouw, wat hy gewen het. Foto: Mark Sampson

Sy senuwees lol die meeste oor die koue seewater by Grootbaai, Bloubergstrand.

Só sê die Stellenbosse atleet Bradley Weiss, wat onlangs as die wêreldkampioen gekroon is by die Xterra-wêreldbyeenkoms, wat in Kapalua op die eiland Maui in Hawaii plaasgevind het.

Hy is Sondag op plaaslike bodem in aksie by Challenge Cape Town, die eerste middelafstand-driekampbyeenkoms wat in die Moederstad gehou word.

“Ek het nog heel jaar in warm weer deelgeneem en glad nie in ’n duikpak nie, so die 15 grade Celsius-seetemperatuur gaan ’n skok vir die liggaam wees.

“As dit agter die rug is, sal ek gemakliker wees,” sê Weiss.

Ná die swem van 1,9 km, sal deelnemers op hul fietse spring en drie vinnige, plat rondtes van 20 km in die Grootbaai-omgewing trap, voordat hulle na Paardeneiland ry en daarna deur die Kompanjiestuin na die Hoërskool Kaapstad. Die afstand van die fietsskof is 90 km.

Van daar sal deelnemers ’n halfmarathon aflê, wat sal bestaan uit drie rondtes van 7 km in die stadskern, met die eindpunt by die hoërskool.

Weiss sê hy het nie verwag om in Hawaii te wen nie, want hy het vanjaar op die Ironman 70.3 (1,9 km-swem, 90 km op ’n padfiets en 21,1 km-padwedloop) gefokus.

Die Xterra-wêreldbyeenkoms het bestaan uit 1,5 km oopwaterswem in die see, 30 km op ’n bergfiets en ’n veldwedloop van 11 km – deur die woud en op die strand. Sy wentyd was 2:33:39.

Hy het in 2017 ook eerste geëindig en in 2018 tweede en daarna sy fokus verskuif na deelname aan die Ironman 70.3.

“Ek het verlede jaar nog bietjie van albei gedoen, maar vanjaar net die Ironman.”

Weiss het goed by die nuwe dissipline aangepas en vir die Wêreldbyeenkoms gekwalifiseer, wat in September in Nice, Frankryk, gehou is.

“Ek het negende geëindig en was verheug om met my eerste poging ’n toptien-posisie te behaal,” sê Weiss.

Dié oudleerling van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch sê hy is opgewonde om die jaar af te sluit met ’n plaaslike byeenkoms.

“Toe ek in Junie gehoor het so ’n byeenkoms gaan hier aangebied word, het ek dadelik ingeskryf.”Hy sê hy het verlede week nog met vlugflouheid gesukkel ná die lang reis van Hawaii, maar is redelik goed uitgerus vir Sondag se byeenkoms.

Ander Suid-Afrikaanse elite-mans wat hul slag Sondag gaan wys, is Matt Trautman, Kyle Buckingham, Keegan Cooke en Rudolf Naudé.

Annah Watkinson, Gillian Sanders, Lauren Cannon en Vicky van der Merwe lei die SA vroue se aanslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.