Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Landman, Perry is SA se heldinne in die duine
Dakar-tydren: Ysterperde, ystervroue

Die Durbaniet Kirsten Landman het eergister die eerste vrou uit Afrika geword wat die moordende Dakar-tydren op twee wiele voltooi – boonop met haar eerste probeerslag.

Kirsten Landman

Landman (28) is 55ste algeheel verby die geruite vlag op haar KTM.

Sy was ook die voorste Suid-Afrikaner van die vyf wat vir die motorfietskategorie ingeskryf het. Die ren het vir die eerste keer in Saoedi-Arabië plaasgevind.

Joey is my mentor en dit was sy stupid idee.

Landman, wat motorfiets ry sedert sy agt jaar oud is, het byna opgehou deelneem aan uithourenne nadat sy in Botswana geval en dae lank in ’n koma was. Joey Evans, die gedeeltelik gestremde Suid-Afrikaner wat drie jaar gelede die Dakar voltooi het, het haar egter geïnspireer en omgepraat om wel weer in die saal te klim.

“Dit het my twee jaar geneem om voor te berei. Joey is my mentor en dit was sy stupid idee,” het sy voor die Dakar gesê.

Om soos Landman dag ná dag, soms ná honderde kilometer in die sand, nét anderhalf uur ná die beste jaers ter wêreld by die oornagpunt aan te kom, is bewonderenswaardig.

Taye Perry

Maar van oopmond-bewondering gepraat, die ware heldin van Dakar 2020 is Taye Perry.

Perry, die ander Suid-Afrikaanse vrou wat deelgeneem het, het net so goed gevaar – totdat sy op die voorlaaste dag tydens die marathonskof ná 240 km geval het en haar KTM nie weer wou loop nie.

Sy het die dag in die 49ste plek algeheel begin en kon die eerste vrou uit Afrika gewees het wat die ren voltooi. Sy moes egter toe honderde kilometer ver deur ’n motor deur die sand gesleep word en haar fiets ver stoot tot by die oornagpunt. Perry, wat bekend staan as die kleinste deelnemer aan die ren, het laatnag eers daar aangekom, maar steeds met ’n glimlag op haar gesig. Ná net anderhalf uur se slaap was sy weer op vir die laaste wegspring. Sy het wel die veldren voltooi, ’n deelnemersmedalje vir haar 77ste plek algeheel gekry, asook lof vir haar vasbyt van die hele wedrengemeenskap.

Elke stryd was die moeite werd. Ek kom terug.

“Ek het dit steeds geniet, want ek weet ek het hiervoor baklei,” het sy ná die tyd gesê.

“Elke stryd en uitdaging was die moeite werd. Ek kom terug en sal beter vaar.”

Die heel eerste Midde-Oosterse Dakar het homself die afgelope twee weke in die argiewe ingeskryf as een van die taaistes tot nog toe.

Die beloftes wat gemaak is toe aangekondig is Saoedi-Arabië gaan die legendariese tydren vir vyf jaar aanbied, was toe nie grootpraatjies deur die organiseerders en die nuwe gasheerland nie.

Die roete van 7 500 km wat deur woestynsand en reuse-duine oorheers is, was ’n ware Dakar-toets vir al die jaers en voertuie in die verskillende klasse.

Meer as 5 000 km daarvan was oopketel-sneltrajekte.

Die roete het die eerste twee dae noord geloop al langs die Rooi See op en daarna ’n oostelike draai gegooi deur ’n bergagtige streek, wat maklik gebruik kan word in ’n wetenskapfiksieprent oor Mars.

Daarna het duisende kilometer deur die Arabiese woestyn voorgelê met duine wat hoe-later-hoe-kwater geword het.

Dit was só erg dat die organiseerders Woensdag besluit het om in die tiende skof halt te roep nadat die deelnemers sowat die helfte van die afstand afgelê het. Net te veel motorfietsjaers het geval en motors het gerol. Hulle het besluit om die res van die skof te kanselleer toe ’n sterk dwarswind die noodhelikopters op die grond gehou het.

Een van die slagoffers van ’n duin hoër as honderd kameelboggels was die “nuweling” Fernando Alonso, wat vir die Gazoo Racing Toyota-span deelgeneem het.

Die Spanjaard het weens sy rolslag meer as ’n uur (en sy voorruit) verloor, asook die kans om sy heel eerste skofoorwinning te behaal.

’n Motorfietsryer laat wiel tydens die 11de skof van die Dakar-wedren tussen Shubaytah en Haradh in Saoedi-Arabië. Foto: Reuters

Hy was in daardie stadium onder die voorste tien jaers algeheel.

Alonso, die Pieter-Steph du Toit van motorrenne, het steeds bo verwagting goed gevaar. Hy het byna-byna die agtste skof gewen en het in sewe skofte onder die toptien geëindig.

Uiteindelik was hy heel tevrede met sy 13de plek algeheel – iets waartoe sy baie ervare navigator, Marc Coma, baie bygedra het.

’n Mens kan met sekerheid sê dat Alonso vol vertroue sal terugkeer om sy droom te bewaarheid om die Dakar ook te wen en só die eerste Grand Slam-wenner van motorrenne te word.

Maar uiteindelik was dit die mees ervare jaers wat die woestyn oorwin het.

Carlos Sainz (Mini) het deurgaans in al 11 skofte goed vertoon, met sy spanmaat, die Fransman Stéphane Peterhansel, wat hom telkens bekommerd gehad het.

Die verdedigende kampioen, Nasser Al-Attiyah van Katar in ’n ander Gazoo Racing Toyota Hilux, was die derde van die driemanskap wat lank om die voorste plek meegeding het.

Uiteindelik was Sainz se vier skofseges net te veel en hy het sy vierde Dakar-titel ingeoes.

Al-Attiyah was tweede en Peterhansel derde. Minder as tien minute het die drie jaers op die podium geskei . . .

Giniel de Villiers het goed begin in sy Hilux en die tweede skof gewen. Hoewel hy daarna nooit weer buite die toptien in ’n skof geëindig het nie, het hy net te veel tyd verloor om waarlik om die eerste plek mee te ding. Hy het in die vyfde plek geëindig.

Die Pretoriase sakeman Hennie de Klerk (Treasury One Nissan Navara) het vasgebyt en terwyl talle ander motors se wrakke bly staan het, stelselmatig gevorder van die 55ste plek tot 32ste. Hy sou beter geëindig het, maar sy bakkie het net voor die eindstreep op die laaste dag gehik en ’n ruk lank gaan staan.

Wat die motorfietse betref, het Ricky Brabec (Honda) die magtige KTM’s se greep van 18 jaar op die Dakar eindelik verbreek. Hy is die eerste Amerikaanse kampioen in die ren se geskiedenis. Die voorste KTM-jaer was die Aussie Toby Price, verdedigende kampioen, wat derde geëindig het. Tussen hulle twee op die podium was Pablo Quintanilla van Chili (Husqvarna).

Ross Branch van Botswana, ’n bekende wanneer daar vir tweewiel-uithourenne in Suid-Afrika aangetree word, was die voorste jaer uit Suider-Afrika.

Die “Kalahari Ferrari” was verlede jaar die voorste nuweling en het 13de geëindig. Hy het vanjaar ’n skof gewen, maar ’n harde val in die sesde skof wat sy linkerskouer ontwrig het, het hom daarna swaar laat leef en hy was uiteindelik 21ste.

Stuart Gregory van SA, wat die ren op die harde manier, sonder ’n ondersteuningspan, voltooi het, was 63ste.

Graeme Sharp van Zimbabwe was 74ste, ook op ’n motorfiets, en Conrad Rautenbach van Swaziland het vierde in die kategorie vir duinebesies klaargemaak.

En Mike Horn, die oud-Suid-Afrikaanse avonturier? Hy was die Fransman Cyril Depres se navigator in ’n duinebesie.

Hulle het ná die sewende skof hul voertuig prysgegee sodat hul jong Red Bull-spanmaat, die Amerikaanse jaer Blade Hildebrand, daarin kon klaarmaak nadat sy besie die gesie gegee het.

Meer oor:  Dakar  |  Dakar-Tydren  |  Dakar 2020  |  Taye Perry  |  Kirsten Landman  |  Saoedi-Arabië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.