SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Akker, jy mág maar Bedford se saluut gee

Julle wat Tommy Bedford onthou, sal ook sy berugte tweevinger-saluut onthou.

Hoe Bedford in 1974 as Natal se kaptein die aand op die onthaal ná sy span se wedstryd teen die Britse Leeus ’n tweevinger-saluut vir die Springbok-keurders gegee het toe hulle die saal binnestap. Dit oor hy gatvol was oor hulle die Natalse spelers so stief behandel en ingeloop het.

Akker van der Merwe kan met goeie rede Bedford se gebaar van protes van destyds nadoen.

Want hy’s verlede Saterdag erg stief ingeloop.

Toe Rassie Erasmus in die herfs van hierdie jaar aangestel is om Allister Coetzee se brouwerk reg te stel, het ek hier geskryf dat hy tawwe toertjies gaan moet uithaal om aan al die verwagtinge én almal se aspirasies te voldoen.

Ek het die grootste agting vir die man omdat hy in hart en siel in die ding is om die Bokke beter te maak en hulle selfs ’n wenkans by volgende jaar se Wêreldbeker te gee. Ook: om ons gebroke rugby reg te maak sodat ons op alle vlakke beter kan vaar en meer mededigend kan wees. Ook: om groter verteenwoordiging van swart in die Bokspan te vestig en terselfdertyd integriteit aan spankeuses te gee.

Skryf die baas hierdie vereistes in my KPA, hol ek weg omdat ek weet hoe onmoontlik versoenbaar dit met ’n uitkoms van sukses is.

Vir net dit het ek massiewe agting vir Rassie. Hy’s by uitstek ’n rugbyman. Van die dag dat hy begin speel het tot nou toe is rugby sy hele lewe. Dis waarmee hy hom in sy 46 jaar op aarde besig hou.

Sport is egter veronderstel om sonder voordeel en regverdig te wees. En dit is die meeste van die tyd só. Hier is dit die stelsel wat dit befoeter.

In die geheel vaar hy ook nie so sleg om aan al die KPA-vereistes te voldoen nie, al maak hy dit net-net.

Sy wenrekord van so 50% is ’n verbetering op sy voorganger s’n, maar nog lank nie waar dit moet wees nie. Maar daar is groot vordering, of so wil dit lyk.

Sy vereiste vir transformasie van 40% vir die jaar en 50% vir volgende jaar is ook ’n glibberige een. Hy haal nog nie vanjaar se teiken nie en volgende jaar se bykomende 10% lyk onhaalbaar as sowel die transformasie-teiken as die wen van die Wêreldbeker die doel is.

’n Tawwer jop in sport kan ek my kwalik voorstel.

Maar integriteit kan nie vir hierdie teikens geoffer word nie. Dis een waarde wat onlosmaakbaar van spankultuur is.

Jy kroek nie. Jy sê nie jy kies op spelpeil, en dan doen jy dit nie.

Bedford het destyds in sy hart geglo die Springbok-keurders kroek deur The Last Outpost se spelers sydelings te skuif wanneer hulle die Bokspan kies.

Ná verlede Saterdag se Curriebeker-eindstryd en die kies van die Springbokspan het ek ’n gevoel gekry dat als ook nie so kosjer is nie.

1. In die aanloop tot die Nuwelandse eindstryd het Erasmus die plegtige verklaring gemaak dat daar nog plekke oop is in die Boktoerspan om voor te speel.

2. Akker van der Merwe vat toe die aas wat uitgegooi is en speel sy direkte teenstander, toevallig ook die Bokke se instaan-2 vir Malcolm Marx, letterlik van die veld af.

Maar hy maak dit nie.

3. Erasmus se verklaring daarvoor is dat Akker belowend is, maar dit darem ook onthou moet word dat hy nie die Haaie se gereelde beginhaker is nie.

4. Toe blaker die WP-breier, John Dobson, dit uit dat die Bokke wat in die eindstryd gespeel het met ’n groot geskarrel by Nuweland weg is om betyds op die lughawe te kon wees om hul vliegtuig Londen toe te haal. Hulle moes al 18:15 verkas het, sê hy, wat die Bokke ná die eindfluitjie ’n raps meer as 30 minute gegee het om in die pad te val.

Iets ruik na rot.

As jy nie teen verlede Vrydag al jou reisdokumente gehad het nie, was jy nie in die toerspan nie – finish en klaar.

Bongi Mbonambi kon nie in Brisbane teen die Wallabies of in die eindstryd op Nuweland langer as ’n eerste helfte hou nie. Erasmus moes hom in Brisbane ná 34 minute afhaal en Dobson moes dit op Nuweland rustyd doen. Bongi was toe só pê en uit op sy voete dat hy sy afrigter nie eens kon antwoord toe hy gevra is of hy moeg is nie.

Oor Malcolm Marx is daar nie te redeneer nie. Hy’s die beste hier én in die wêreld.

Maar wat as hy beseer raak?

Mbonambi is wisselvallig, hoe vrek goed hy ook al met sy terugkeer was. Dit was egter toe net ’n blerts. En vra jou maar self af waarom hy gister maar vir net 8 minute op die veld was.

Schalk Brits is haker/mentor/afrigter, hy het in ses maande hoofsaaklik net geoefen en in twee toetse as plaasvervanger verskyn. Hoe goed hy nou op 37 is, weet nugter. En as hy volgende jaar 38 is, ’n skrale agt jaar jonger as sy afrigter?

Brits verdien nie kritiek nie, want hy is self ’n slagoffer van vooroordeel en is oor baie jare ingeloop, maar is daar in ’n Wêreldbekergroep van 31 rêrig plek vir die luuksheid van haker/mentor/afrigter?

Akker se spelpeil, kondisionering, vaardigheidsvlakke, entoesiasme en konstruktiwiteit het hom in die Curriebeker-eindstryd kop en skouers bo die res laat uitstaan. Hy’s verby belowend, eerder die ware Jakob, sou ek sê.

In sport is daar ’n ou gebruik om vir ’n verloorder ’n hartlike klop op die skouer te gee en te sê hard luck, tjom.

Ek kon my nog nooit met hierdie hard luck-sêding vereenselwig nie, al verstaan ek dat dit meestal maar net ’n beleefde manier is om simpatiek te wees.

Akker verdien nie so ’n hard luck-skouerklop nie.

Ek wil eerder vir Akker, en namens almal wat soos ek voel, sê: Jy’s pure Springbok.

En soos die hardegat Bedford die Springbok-keurders destyds in hul peetjie gestuur het, mag jy óók maar vandag.

Meer oor:  Menings  |  Bokkie Gerber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.