Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
All Blacks slagoffer van eie sukses, foute

Toe spat Nieu-Seeland en Wallis, twee van die passievolste rugbylande ter wêreld, se Wêreldbekerdrome reeds ’n week voor die eindstryd aan skerwe. Om van ’n voormalige nommer een op die ranglys, Ierland, nie eens te praat nie. Dié land se turf het 14 dae te vroeg gesit.

Wat het dan skeefgeloop?

Nieu-Seeland het eintlik in die slaggat van sy eie sukses getrap.

dok pool
Dok Pool.

Die All Blacks het sedert 2007 se Wêreldbeker-teleurstelling in Parys bittermin wedstryde verloor. Hulle het daarin geslaag om vir ongeveer ’n dekade ’n span met weinig swakpunte bymekaar te kry en te hou. Hul vaste voorspelers was sterk, die losvoorspelers dinamies, en die agterspelers het spoed, vaardighede en insig gehad. Voeg hierby ’n genie soos die losskakel Dan Carter – die tipe speler wat hoogstens een keer in ’n dekade op die toneel verskyn.

Rugby is egter ’n kontaksport en spelers is selde meer as vier of vyf jaar op die kruin van hul loopbaan. Die Nieu-Seelanders se (baie menslike) fout was om uit lojaliteit hierdie spelers te lank te behou.

Wat hul voorspelers betref, het hulle ’n basiese beginsel van rugby vergeet.

Ons sit in die vyftigerjare in dr. Craven se klas.

“Menere,” sê hy, “rugby begin by die vaskopstut. Sonder ’n sterk vaskop het jy nie ’n skrum nie en sonder ’n goeie skrum kan jy nie groot wedstryde wen nie.”

Dít was in die dae van die legendariese vaskop Piet du Toit. Sterk vaskoppe was dus ’n kenmerk van spanne wat Craven gekies het.

In 1972 teen Engeland op Ellispark het die keurders in hul wys­heid twee loskoppe, Sakkie Sauermann en Nic Bezuidenhoudt – albei goeie spelers – gekies om in die voorry te sak, en die prys daarvoor betaal. Die teenoorgestelde het verlede Sondag teen Wallis gebeur. Goeie voorrye en sterk skrums het tot strafskoppe vir SA, en uiteindelik ’n oorwinning, gelei.

As Steve Hansen Dok Craven se insig gedeel het, sou hy straks nie die All Blacks se ysterman Owen Franks ter wille van meer beweeglike voorrye by die huis gelos het nie.

As buitestander het ek die agteruitgang van die All Blacks se agterspel gesien.

Dis nie die eerste keer dat die All Blacks in hierdie slaggat van beweeglikheid, eerder as krag, in die voorry trap nie. Tydens die Britse Leeus se 1971-toer het die Nieu-Seelandse keurders presies dieselfde gedoen, en moes sien hoe die Leeus die All Blacks se skrum verwoes.

’n Tweede groot fout wat die voorspelers betref, was om Barrett, ’n slot, teen Engeland in die spesialisposisie van flank te kies. Daardeur het die Nieu-Seelanders verseker dat die Engelse losvoorspelers die stryd om die losbal wen en hul span op die voorvoet plaas.

In ’n poging om aan die leemtes in hul agterspel aandag te gee, het die All Black–keurders, by gebrek aan ’n uitstaande heelagter en betroubare stelskopper, die briljante Beauden Barrett hierdie seisoen van losskakel na heelagter geskuif. Heelagter is egter, soos losskakel, ’n spesialisposisie, en bittermin losskakels was tot dusver ’n sukses op heelagter. Ook nie Barrett nie. Hierdie flaters laat my dink aan wat Tiger Woods by geleentheid gesê het: “Dis fataal om jou sterkpunte te verswak deur te veel tyd af te staan aan jou swakpunte!”

As buitestander het ek die agteruitgang van die All Blacks se agterspel gesien. Hul skrumskakels het, soos die losskakel, nie die opponente laat aarsel nie, en die senters het geleidelik verander in gemiddelde patroonspelers sonder individuele, skeppende briljantheid.

Dieselfde geld die vleuels. Spoed, spoed en nogmaals spoed by minstens een van die vleuels is noodsaaklik op toetsvlak. Die feit dat die All Blacks meestal bly wen het, het afrigters en ondersteuners ’n vals gevoel van gerustheid gegee.

Hul groot nederlaag teen Australië en middelmatige vertonings teen Suid-Afrika in die Drienasies-kompetisie moes die waarskuwingsligte laat flikker het, maar dis nie raakgesien nie. Hierdie blinde oorgerustheid is versterk deur Wêreldbeker-oorwinnings teen Suid-Afrika en Ierland. Engeland, daarteenoor, het intussen onder leiding van afrigters wat Nieu-Seelandse rugby soos die palm van hul hand ken, deeglik voorberei vir ’n moontlike botsing met die All Blacks – of SA – en die All Blacks heeltemal onkant betrap met hul aggressiewe kragspel.

En Wallis?

Die Walliesers het die Sesnasies-kompetisie gewen met verbeeldinglose laerisiko-kragrugby, verdediging en goeie stelskoppers binne ’n maksimale benutting van die reëls en die toepassing daarvan. Hulle het hulle egter vasgeloop teen ’n Suid-Afrikaanse span wat dieselfde tipe rugby, net beter, gespeel het.

Op die keper beskou, het Ierland, Wallis en Engeland basies dieselfde soort rugby gespeel. Die verskil is net dat die Engelse meer diepte in hul span het, en soos in Suid-Afrika se geval is daar bittermin verskil tussen die beginspelers en die plaasvervangers; ’n luukse waaroor die Iere en die Walliesers nie beskik nie.

  • Dr. Gerrit Pool was in die era van dr. Danie Craven as afrigter by Matierugby betrokke. Hy het ook in Italië afgerig en was ’n tegniese adviseur van die Springbokke. Hy is deesdae afgetree en woon op Hartenbos.
Meer oor:  Wêreldbeker (Wb)-Toernooi  |  Dok Pool  |  Meninngs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.