Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alle hoop nie vir Springbokke verlore

So ’n ommeswaai in persepsies soos wat daar die afgelope naweek oor ons geliefde Springbokke was, het ek lanklaas gesien.

Die Springbok bloei, maar als wat vanjaar opgebou is, hoef nie nou summier weggesmyt te word nie. Foto: Reuters

Tot voor Saterdag se ongekende nederlaag van 0-57 teen die All Blacks is hierdie groep Bokke wyd en syd geloof dat hulle Suid-Afrikaanse rugby se naam vanjaar in ere herstel het. Klop die Bokke aanstaande week vir Australië in Bloemfontein en is hulle op Nuweland mededingend teen die All Blacks, glo ek steeds daar sou aansienlike vordering gewees het ná verlede jaar se erge gesukkel.

Soos ek vantevore in hierdie rubriek gesê het, is die Bokke se grootste probleem eenvoudig dat daar bitter min spelers van wêreldgehalte in hul geledere is. Hulle het ’n stewige pak voorspelers, maar benewens Jan Serfontein en miskien Elton Jantjies sien ek vir die res van die agterlyn op toetsvlak nie ’n toekoms nie.

Ek het al dikwels Raymond Rhule se blapse op die verdediging uitgewys – gaan kyk gerus na my rubriek waar ek die Westelike Provinsie van geldmors beskuldig dat hulle hom gekontrakteer het – en sy kleitrappery teen die All Blacks behoort niemand te verbaas het nie. Courtnall Skosan lyk letterlik bang op die ander vleuel, Jesse Kriel se balvaardighede laat veel te wense oor, Andries Coetzee is beswaarlik die volgende André Joubert en die Bokke het ook nie ’n goeie skrumskakel nie.

Die Leeu-ondersteuners sal nou soos een man “Ross Cronjé” skree, maar dis tyd om realiteite onder die oë te sien. Cronjé is ’n bruikbare speler, maar die feit dat die Suid-Afrikaanse rugbystelsel nie ’n beter skrumskakel as hy kan oplewer nie, is ’n klad op ons afrigters se name.

En dís die punt: Die Bok-span is ondanks Saterdag se fiasko besig om plek-plek gevestig te raak.

Die Superreeks se Leeu-sprokie lê daarin dat dit ’n span was waar die somtotaal meer as die onderliggende syfers was. Dis wat Johan Ackermann en Swys de Bruin so ’n goeie afrigtingspan gemaak het.

Op toetsvlak teen die All Blacks is dit egter ’n ander saak. ’n Breker soos Malcolm Marx se dinamiese spel in die los moet skielik opgeweeg word teen sy vermoë om die bal onder druk teen van die wêreld se voorste slotte by die lynstane in te gooi.

Só kan ons deur elke posisie in die span gaan en spelers se tekortkominge uitwys en dan ’n sterk saak maak oor waarom die Bok-afrigter, Allister Coetzee, etlike spelers van hul oorsese klubs af moet ontbied en die snoeiskêr moet inlê. Die probleem daarmee is dat dít nie ons spelers die geleentheid sal gun om te groei nie. Daar is sekere spelers wat duidelik nie opgewasse is nie, maar ander wat die geleentheid gegun moet word om eenvoudig beter en meer ervare te raak.

Marx is hiervan ’n sprekende voorbeeld. Voor Junie se reeks teen die Franse was ek ten gunste daarvan om vir Bismarck du Plessis op te roep, maar als in ag genome is dit nie meer die geval nie. Ons het al genoeg van Marx gesien om te glo hy kan deel van die ruggraat van ’n suksesvolle Bok-span wees.

En dís die punt: Die Bok-span is ondanks Saterdag se fiasko besig om plek-plek gevestig te raak. Dis beserings aan Frans Malherbe en Coenie Oosthuizen wat ons op vaskopstut kortwiek, daar is baie slotte in die spens en individueel goeie losvoorspelers. Die probleem met die losvoorspelers is net om ’n trio te vind wat mekaar aanvul en dit gaan ’n sterk baldraende steelkantflank, wat ook ’n teenwoordigheid in die lynstane bied, moet insluit. En natuurlik ’n meer dinamiese agtsteman as Uzair Cassiem.

Om insig te kry in watter spelers nie goed genoeg gaan wees vir die reistog Wêreldbeker-toernooi toe nie, is deel van die proses.

Ondanks alles glo ek steeds Coetzee moet vir die res van die Rugbykampioenskap by sy groep hou. Daar is ’n gevestigde spankultuur en als is nie skielik verlore nie.

Boonop slaan Suid-Afrikaanse rugby ’n nuwe koers in sodra Rassie Erasmus se verpligtinge as direkteur van rugby by Munster afgehandel is. ’n Mens kan verwag dat daar met sy koms daadwerklike veranderinge gaan wees – in personeel en speelstyl – en met die toekoms in gedagte is dit beter dat hy insig kry in wat plaaslik beskikbaar is.

Daarmee tesame moet ons ook nie als net wegsmyt wat opgebou is nie. Om insig te kry in watter spelers nie goed genoeg gaan wees vir die reistog Wêreldbeker-toernooi toe nie, is deel van die proses.

Meer oor:  Bokke  |  Stephen Nell  |  Rugbykampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.