Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Allister straks nie vervang ná hy moet loop
Allister Coetzee in Albany toe die Springbokke vroeër vanjaar met 57-0 deur die All Blacks geklop is. Foto: Getty Images

Rassie Erasmus se aanstelling as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby gaan waarskynlik beteken dat Allister Coetzee nie eens vervang gaan word indien hy wél die trekpas as Springbok-afrigter kry nie.

Selfs al bly Allister Coetzee behoue, sal die kernpligte van Springbok-afrigter vorentoe Rassie Erasmus s’n wees. Erasmus se reputasie as ’n afrigter het die afgelope seisoen by die Ierse span Munster die hoogte in geskiet. Foto: Getty Images

Coetzee se prestasie-beoordeling vir die afgelope seisoen, waartydens die Bokke sewe toetse gewen, in twee gelykop gespeel en vier verloor het, vind Woensdag in Kaapstad plaas.

Met verlede seisoen bygereken, het Coetzee slegs 11 van sy 25 toetse aan die spits van die Bokke gewen. Dis ’n wenpersentasie van 44%, wat hom kniediep in die sop het by Suid-Afrika se rugbybase.

Erasmus het uit hoofde van sy amp in elk geval nou die laaste sê oor rugbysake rakende afrigting, wedstrydplanne en spankeuses, wat beteken dat hy inderdaad die kerntake van ’n hoofafrigter sal vervul.

Die beste scenario waarop Coetzee waarskynlik kan hoop, is om ’n hulpafrigter te wees. Hy het die Bokke se agterlyn van 2004 tot 2007 gebrei, maar daardie rol sal hom natuurlik slegs beskore kan wees indien Franco Smith vorentoe nie meer dié pos gaan vul nie.

Gegewe dat hy ten beste in die toekoms met geknipte vlerke gaan sit, sal dit nie verbaas nie indien Coetzee se gesprekke met Saru vandeesweek in die rigting van ’n skeidingspakket eerder as voortgesette diens beweeg.

Daar is al bespiegel dat hy nie aan die prestasieklousule in sy kontrak voldoen het nie, asook dat hy al in gesprekke met die Japanse klubspan Canon Eagles was.

Elders gaan daar waarskynlik ook beduidende veranderings aan die Bokke se bestuurspan wees.

Jacques Nienaber, wat as een van die voorste verdedigingsafrigters in wêreldrugby gereken word, sal die Bokke van aanstaande jaar af onder hande hê. Foto: Gallo Images

Brendan Venter het die span vanjaar deeltyds as verdedigingsafrigter gehelp, maar dit sou altyd net wees tot tyd en wyl Jacques Nienaber saam met Erasmus na Suid-Afrika terugkeer.

Die Bokke was vanjaar aansienlik beter met die intellektuele kapitaal wat Venter na die afrigtingskorps gebring het, maar die span het steeds nie goed genoeg gevaar om die rugbybase te oortuig dat Coetzee behou moet word nie.

Die nederlaag teen ’n verswakte Walliese span, nadat Venter en Johann van Graan se rolle as hulpafrigters al ten einde geloop het, was straks die laaste strooi.

Van Graan se besluit om die rol as hoofafrigter van Munster te aanvaar, bied vir Erasmus ook die geleentheid om die Bokke by die lynstane af te rig. Hy is in sy dae as speler al aan sy kreatiwiteit in dié faset geken.

Elders is die pos van die voorspeler-afrigter, Matt Proudfoot, straks ook in die gedrang.

Die voormalige Franse stut Pieter de Villiers het die Bokke as skrumafrigter bygestaan toe Erasmus in sy vorige pos as Saru se hoof van rugby gewerk het.

Pieter de Villiers sal die gunsteling wees om die Springbokke by die skrums af te rig indien Matt Proudfoot as voorspeler-afrigter gepos word. Foto: Gallo Images

Dit sal dus nie verbaas nie indien De Villiers in die nuwe jaar terugkeer om Suid-Afrika se nasionale spanne se skrumwerk op te knap.

Proudfoot was al by vier spanne – die Westelike Provinsie, Stormers, Kobe Kobelco Steelers en die Bokke – ’n hulpafrigter vir Coetzee.

* Coetzee het ná die Bokke se nederlaag teen Wallis gesê dat hy ’n kontrak tot 2019 het en nie die handdoek gaan ingooi nie.

Hy het bygevoeg dat die verlies van Venter en Van Graan ná die tweede toets op hul onlangse toer, teen Frankryk, ’n groot impak op die span gehad het.

Daarmee saam het Coetzee aangevoer dat die span vanjaar vordering getoon het. Hy het ’n pleidooi vir kontinuïteit in die afrigtingstrukture gelewer.

Meer oor:  Bokke  |  Allister Coetzee  |  Jaareindtoer  |  Stephen Nell  |  Springbokke  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.