Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Angus se eerbewys klap in die gesig

Wêreldrugby het sy reputasie en geloofwaardigheid op ’n mishoop staan en smyt met sy besluit om Angus Gardner as die beste skeidsregter in die wêreld te vereer.

Dié eerbewys is boonop ’n vuishou in die gesig van rugbyondersteuners oor die wêreld heen wat met reg omgekrap is oor Gardner se vele mistastings en ruggraatlose beslissings vanjaar.

Angus Gardner ken ’n strafskop toe tydens die toets tussen Suid-Afrika en Engeland op Twickenham. Foto: Gallo Images

Franse ondersteuners was boos toe die Hane se heelagter Benjamin Fall in die tweede toets vanjaar teen Nieu-Seeland in die 11de minuut met ’n rooikaart van die veld gestuur is, nadat hy kontak met Beauden Barrett in die lug gemaak het.

Die Hane het dié toets met 26-13 verloor, nadat hulle 70 minute lank met 14 spelers moet klaarkom.

Wêreldrugby het later die rooikaart van Fall se rekord geskrap, in wat gesien kan word as ’n erkenning dat Gardner ’n fout begaan het.

As dit die enigste noemenswaardige fout was wat Gardner vanjaar begaan het, kon ’n mens hom dit nog tot ’n mate vergewe.

Maar, helaas.

’n Maand ná daardie blaps, het Gardner die Bokke behoorlik geboor toe hulle teen Argentinië in Mendoza gespeel het.

Soveel so, dat die Bok-bestuur ’n dossier met 25 beslissings wat hulle gevoel het verkeerd was, aan Wêreldrugby gestuur het. Dié beheerliggaam het glo gelyk gegee dat 17 uit die 25 beslissings wat die Bokke uitgewys het, wél verkeerd was.

In die Bokke se toets op Loftus Versfeld teen die All Blacks, het Gardner ’n blatante vorentoe-aangee geïgnoreer wat tot ’n Nieu-Seelandse drie gelei het.

Die Owen Farrell-skouerloop op André Esterhuizen in die doodsnikke van die Twickenham-toets teen Engeland het egter die kroon gespan.

Gardner se lafhartige versuim om die regte beslissing te maak het die Bokke van die geleentheid ontneem om die toets met ’n strafdoel te probeer beklink.

Die blaser het die maklike uitweg gekies om Farrell nié te straf nie en sodoende die gramskap van ’n woedende Twickenham te vermy.

Ná die tyd het Wêreldrugby erken Gardner was verkeerd.

En nou is hy die beste skeidsregter in die wêreld.

Wat die beheerliggaam eintlik met dié toekenning sê, is dat afrigters en ondersteuners se griewe ongeldig is, want as ’n blaser so omstrede soos Gardner met dié prys vereer kan word, tel dit duidelik vir niks wanneer daar geldige kritiek teen hom is nie.

Wêreldrugby beloon middelmatigheid. Hy bekroon ’n skeidsregter as die beste in sy werk, al het hy uitslae van wedstryde met vrot beslissings beïnvloed.

Dit is tyd dat afrigters hul griewe met blasers in die openbaar begin lug.

Niemand verwag dat skeidsregters foutloos is nie, maar wanneer sulke groot flaters begaan word, moet afrigters en spelers dit kan uitwys. Dít sal lei tot meer deursigtigheid en aanspreeklikheid.

Wêreldrugby se beheptheid daarmee om skeidsregters te beskerm doen baie meer kwaad as goed.

Dit sal dié beheerliggaam ook baat om self meer deursigtig te wees oor sy prosesse. Byvoorbeeld: Hóé is daar besluit om Gardner as die beste skeidsregter in die wêreld te vereer?

Want as hy die beste is, sidder ’n mens om te dink hoe die swakste skeidsregter in die wêreld lyk.

Meer oor:  Skeidsregter  |  Blaser  |  Toetsrugby  |  Wêreldrugby  |  Angus Gardner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.