Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Baie geel- en rooikaarte reëls se skuld

Kyk ’n mens bloot na hoe baie geel- en rooikaarte al uitgedeel is, is dié Wêreldbeker-toernooi die een met die meeste vuilspel nóg.

Het die spelers skielik verander in gewetenlose monsters wat nie sal skroom om hul teenstanders te beseer en van die veld af te speel nie? Beslis nie. Wat is dan die eintlike rede vir al die oortredings? Rugbyreëls.

dok pool
Dok Pool.

Die reëls is veronderstel om die integriteit van die spel te behou en die deelnemers, sover moontlik, teen beserings te vrywaar. Dis juis by dié kernvereistes dat die rugbyowerhede die bal laat val het.

Die reëlmakers het die spel die afgelope paar jaar in ’n rigting gestuur waarvan hulle nou die vrugte pluk. Sonder dat ondersteuners dit besef het, is ’n bykans nuwe spel stelselmatig geskep. Die gevolge daarvan is nie altyd voorsien nie en die spelers word aansienlik meer aan beserings blootgestel. Bestaande reëls is op so ’n inkonsekwente en onlogiese wyse verander of aangepas dat die praktyk en die reëlboek ligjare van mekaar verskil.

Herhaalde waarskuwings daarteen is op arrogante wyse geïgnoreer of verwerp met die verweer dat dit nou die era van “moderne rugby” is.

Wat het hierdie stand van sake laat ontstaan?

Daar is hoofsaaklik drie faktore: die rol van geld in die era van professionele rugby, die onnadenkende navolging en gedeeltelike besoedeling van rugby deur Rugby League en ’n ongebalanseerde strewe na kontinuïteit.

Vir eers het geldrugby veroorsaak dat die begeerte om te wen alle etiese norme oorheers. Reëls is eenvoudig daar om gebruik en misbruik te word en strafskoppe teen my span is verkieslik bo drieë.

Tweedens het Rugby League se verdedigingsafrigters ’n nuwe goudmyn in rugby gevind en hul stelsel, wat drieë tot elke prys moet verhoed, kom instel. In navolging van League is verdedigingstelsels ontwerp waarvolgens die baldraer op borshoogte gelak word en sy besit daarna op die grond vertraag word sodat die verdedigers in posisie kan kom. Die beseringsrisiko vir die baldraer is voor die hand liggend.

Weens die groot verskil in lengte tussen die spelers, gebeur dit dikwels dat die langer verdediger die korter baldraer bo die skouers teen die nek en kop tref, veral wanneer die baldraer in ’n breukdeel van ’n sekonde voor die kontak effens sak. Die onvermydelike gevolg? Aanpassings aan die strafstelsel – veral rooikaarte – om hiervoor te vergoed en die spelers te beskerm, dikwels sonder om in ag te neem of dit opsetlik was of nie.

Die pendulum in rugby het, soos ek reeds in 2001 begin waarsku het, heeltemal te ver oorgeswaai na verdediging.
Dr. Gerrit Pool

Omdat dit uiters moeilik is om die bal by ’n losskrum terug te wen, staan daar altyd meer verdedigers as aanvallers uit. Die maklikste oplossing vir die aanvaller om oor die voordeellyn te kom, is om die bal hoog agter die verdedigers in te skop. Die gevolg is dikwels kontak in die lug tussen aanvaller en verdediger. Weer eens noodsaak dit ’n nuwe reël om die verdediger te beskerm en nog ’n moontlikheid van kaarte word geskep.

Die inkonsekwent toegelate praktyk om spelers wat nie die bal het nie te speel, tesame met die wyse waarop die bal op die grond beskerm word, lei tot skouerlope om hierdie beskermers weg te dryf. Nóg nuwe strawwe en nogmaals kaarte!

Derdens word die indruk gewek dat enige reël wat kontinuïteit dalk kan benadeel, geïgnoreer moet word ongeag die aard – kontak, fasespel en skoppe – van die kontinuïteit.

Die pendulum in rugby het, soos ek reeds in 2001 begin waarsku het, heeltemal te ver oorgeswaai na verdediging. Aanval sal weer in ere herstel moet word of ten minste op gelyke voet met verdediging geplaas word. Maar hoe?

Die verdediger vrees spoed op die bal, want dan het hy nie tyd om in posisie te kom nie. Bring dit terug en begin by die ou wat têkkel wat eers die bal mag speel nadat ’n spanmaat daaraan geraak het. Dit sal die vertraagde besit wat tot aanhoudende fasespel lei, gou uitskakel. Volg dit op deur toe te laat dat die skrumskakel getêkkel mag word sodra hy aan die bal raak. Skrumskakels sal dan, soos jare gelede, blitsvinnig moet skoonmaak om nie met die bal betrap te word nie.

En laastens, handhaaf by sowel die skrum as die lynstaan die beginsel dat die span wat die bal doodmaak nie die daaropvolgende ingooi mag kry nie; strafskop of nie. Spanne sal dan nie meer van die lynstaanrolmaal ’n spel binne ’n spel kan maak om punte aan te teken nie en noodgedwonge die bal moet lug gee.

Ten slotte: Japan het teen Skotland die verlore kuns van spoed op die bal getoon en baie aanhangers gewen met hul ondernemingsgees. Die Skotte, daarteenoor, kon nie uit hul patroon van stadige en statiese moderne rugby kom nie.

  • Dr. Gerrit Pool was in die era van dr. Danie Craven as afrigter by Matie-rugby betrokke. Hy het ook in Italië afgerig en was ’n tegniese adviseur van die Springbokke. Hy het reeds afgetree en woon op Hartenbos.
Meer oor:  Rugbymening  |  Dok Pool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.