Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wêreldrugby moet voet dwars sit

Dis die Wêreldbeker-eindstryd. Die stadionhorlosie by die internasionale stadion in Yokohama is diep in die rooi, die telling lees: Suid-Afrika 19, Nieu-Seeland 18.

Die skeidsregter Nigel Owens steek sy arm skuins in die lug, net binne die All Blacks se helfte.

Beauden Barrett lê aan pale toe. Foto: Getty Images

Beauden Barrett gaan die strafskop waarneem, aanlê pale toe vir die drie punte wat die WB-driekuns vir sy span kan beklink. Hy weet hy kan nie die bal 52 meter ver skop nie, maar 50 ... dié kan hy doen.

Hy sit die bal gedienstig op Owens se merkie neer en dan, wanneer die Walliese blaser wegkyk, tik hy die bal stout so twee meter vorentoe.

Daarsy, dis beter. En ook heeltemal toelaatbaar, al oortree hy Wêreldrugby se reël 20.4, want toe hy dit in Julie teen Suid-Afrika gedoen het, het nóg Wêreldrugby, nóg die beheerliggaam Sanzar teen hom opgetree. Trouens, hulle het hom nie eens oor die vingers getik nie. G’n boe of ba gemaak nie.

Sanzar se amptelike antwoord op ’n medianavraag oor die voorval in dié toets wat met 16-elk gelykop geëindig het, was: “Sanzar sal nie die ‘voorval’ verder opneem nie.”

Die aanhalingstekens voor en ná die woord voorval verraai ’n amperse sarkasme, asof Sanzar sê dié kwessie is dit nie eers werd om ’n gesprekspunt te wees nie.

Barrett het dus al voorheen daarmee weggekom. Sy All Black-breier, Steve Hansen, het juis gesê “almal doen dit”.

Bid jou dit aan: Barrett slaag met daardie strafskop en Nieu-Seeland wen die WB. Nadat hy die reëls verbreek het.

Die bogenoemde scenario is oordrewe, maar die presedent wat Wêreldrugby en Sanzar met hul hantering van dié kwessie skep, is ’n gevaarlike een.

Ná Sanzar se aanvanklike reaksie op die navraag, is die vraag gevra of die beheerliggaam dit dus goedkeur as ’n skopper die bal nader aan die pale plaas wanneer hy aanlê vir ’n strafskop.

“Beslis nie. Hierdie was ’n geïsoleerde voorval en ons bly waaksaam. Die wedstrydbeamptes word weekliks voorgelig.”

Maar is dit werklik ’n geïsoleerde voorval?

Wat Suid-Afrikaners des te meer die josie in gemaak het oor Barrett se optrede, is dat dit half ’n bevestiging was van ’n vermoede dat die All Blacks met meer wegkom as enige ander span.

Uiteraard nie naastenby so ernstig nie, maar soortgelyk aan die “aha!-oomblik” verlede jaar in Kaapstad toe die Aussie-krieketspan gevang is waar hy kroek. Dit was die oomblik waarvoor almal gewag het om te sê: “Sien! Ons sê nog altyd hulle is só.”

As die skeidsregter Barrett gesien het, sou hy hom, volgens die reëls, bloot moes vra om die bal terug te skuif. Is dit dus nie maar ’n storm in ’n glas water nie? Minder ernstig as ’n hoogvat, of om nie weg te rol nie. Wat Barrett se optrede onaanvaarbaar maak, is dat hy met voorbedagte rade opgetree het.

Met ander oortredings, soos om nie weg te rol nie, is spel aan die gang. Jou teenstanders probeer jou uitoorlê. Jy moet blitsige besluite neem en dan kan jy foute maak.

Barrett was onder geen druk van die Bokke toe hy besluit het om veld te steel nie.

Die rugbypubliek is keelvol vir die gevoel dat die Kiwi’s met moord wegkom. Of dit nou Richie McCaw is wat vir ’n paar sekondes langer op ’n bal in die losskrum lê, of Bismarck du Plessis wat ’n geelkaart kry vir ’n klipharde, wettige, duikslag op Dan Carter (want moet tog net nie ons kroonprins seermaak nie!) of Barrett wat veld steel.

Die rugbywêreld is keelvol vir Sanzaar en Wêreldrugby se nonchalante houding daaroor. Wêreldrugby moet regverdigheid laat seëvier en sy eie reëls toepas.

Want ander lande wonder waar hulle die kam kan koop waaroor die All Blacks geskeer word. Dit blyk al lank hulle beskik oor ’n ander een.

Meer oor:  Skeidsregter  |  Beauden Barrett  |  Toetsrugby  |  Sanzar  |  Wêreldrugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.