Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokke op hul beste as buiteperde

Ongeag of die Springbokke Saterdag se Wêreldbeker- (WB) eindstryd wen of verloor, sal hulle as helde na Suid-Afrika terugkeer.

Damian de Allende se kraglopies sal in Saterdag se WB-eindstryd weer van onskatbare waarde vir die Springbokke wees. Foto: Getty Images

Dié span, onder die bekwame leiding van Rassie Erasmus, verdien reeds om gevier te word. Suid-Afrika boesem weer vrees in op die wêreldverhoog en daarmee saam het die Bokke, danksy Erasmus se toewyding tot nasiebou, ook in die hart van byna alle Suid-Afrikaners ingekruip.

Dat Suid-Afrika die buiteperd is vir die eindstryd is gewis so. Terselfdertyd is dit goeie nuus, want dis in die Bokke se DNS om met iets spesiaals vorendag te kom wanneer kenners dit nie verwag nie. Hulle is aansienlik beter buiteperde as gunstelinge.

Geoordeel aan die laaste kragmeting tussen Suid-Afrika en Engeland, op Twickenham verlede jaar, is daar egter nie rede tot pessimisme nie. Die Rose het toe met 12-11 gewen, maar slegs danksy menige ongedwonge foute deur die Springbokke en ook die besluit van die skeidsregter, Angus Gardner, om nie Owen Farrell se gevaarlike duikslag op André Esterhuizen te straf nie.

Gardner was toe eenvoudig nie dapper genoeg om in die doodsnikke van die wedstryd voor 80 000 Engelse ondersteuners die ongewilde besluit te maak om die tuisspan te straf nie. Het hy, sou Handré Pollard ’n goeie kans gehad het om ’n oorwinning met ’n strafdoel te beklink.

Ondanks die teleurstelling van daardie nederlaag, sou die Bokke Twickenham verlaat het met die wete dat hulle oor die vermoë beskik om Engeland in sy agterplaas te klop. Waarom kan hulle dit dan nie in Japan doen nie?

Handré Pollard se skopwerk pale toe sal, soos teen Wallis, foutloos moet wees vir die Bokke om ’n goeie kans te hê om vir Engeland in Saterdag se WB-eindstryd te klop. Foto: Getty Images

Daar is baie kritiek op die Bokke se wedstrydplan, maar die beste manier om jou ondersteuners te vermaak, is deur te wen. In WB-toernooie speel jy volgens persentasies en Erasmus se plan werk.

Ek het my bedenkinge gehad oor ’n verdedigingspatroon wat só baie ruimte wyd laat, maar die statistieke toon duidelik dat die Springbokke nie veel drieë afstaan nie.

Van die sleutelspelers is ook besig om net op die regte tyd sterk na vore te tree. Handré Pollard se korrelwerk onder druk was foutloos teen Wallis, terwyl Damian de Allende die beste rugby van sy loopbaan op binnesenter speel.

As ek moet kies tussen hulle en die Engelse 10-12-kombinasie van George Ford en Farrell, sal ek die Bok-duo neem.

Indien Erasmus by die plan van ses voorspelers op die plaasvervangersbank hou, sal als natuurlik afhang van in welke mate hulle die lewe uit Engeland se agttal kan wurg. Dis ’n wedstryd wat heel moontlik in die loopgrawe uitbaklei kan word en daarvoor is die Bokke goed toegerus.

Noem my dus maar ’n optimis, maar ek sien nie waarom die Springbokke, veral deur oorsese kenners, so ’n geringe wenkans gegun word nie.

Dit pas die Bokke nietemin soos ’n handskoen met hul psige en plaas ook groter druk op die Engelse.

Intussen glo ek kommer oor die aanstelling van Jérôme Garcès as blaser, is nie in objektiwiteit gegrond nie.

* Intussen glo ek kommer oor die aanstelling van Jérôme Garcès as blaser, is nie in objektiwiteit gegrond nie.

My probleem met die Franse skeidsregters is nie die individue nie, maar die kabaal in Wêreldrugby wat só mooi vir hulle sorg wanneer dit by aanstellings kom.

Ek het die lys Bok-toetse bestudeer waarin Garcès die blaser was en kon nie een vind waarin hy die bepalende faktor in die nederlaag was nie.

Sy enigste vorige toets tussen die Bokke en Engeland was die een op Twickenham in 2016, wat die Rose met 37-21 gewen het. Die Bokke was toe doodeenvoudig sleg, wat nie nou meer die geval is nie.

Die kanse dat die wenner van die eindstryd deur ’n blaser-flater bepaal sal word, is natuurlik daar, maar niks meer onder Garcès as wat dit andersins sou wees nie.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.