Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokkie Gerber: Bokke slagoffers van tref-en-trap
Bokkie Gerber

Vra my oor die sin van die lewe. Moenie my vra oor die sin van Springbokrugby nie.

Gister se toets teen Australië in Brisbane het van die Springbokke én Allister Coetzee vereis om hulle te definieer as ’n span en afrigter wat van toetsgehalte is. ’n Span met die vermoë, vernuf en wil om ’n klomp negatiewes in ’n paar positiewes om te draai. ’n Span wat verbeter. Nie een wat versleg nie.

Selfs die patetiese Aussies, wat vanjaar in Superrugby so ’n verleentheid was en boonop in die laaste paar maande ses toetse in ’n ry verloor het, het die Bokke dieper die wildernis in gedryf.

Maak dit vir enigeen sin dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie die nuwe nasionale afrigter eers omtrent drie maande gelede aangestel het? Maak dit sin dat die hulpafrigters deur Saru verskaf is – hoofsaaklik erfgoed uit Heyneke Meyer se tyd. Maak dit sin dat ’n spesialisagterlynafrigter by die Bokke aangestel word wat nog in opleiding is.

En, ten laaste, is daar Saru se heel jongste haas-uit-die-hoed: die aanstelling van ’n eertydse en gefakste klubafrigter wat nou in beheer is van die Bokke se verdediging.

Daar’s sin in om te glo, soos die geskinder ook is, dat jy of ’n jagmaat of ’n vakansiemaat of ’n drinkmaat of net ’n beste maat moet wees van die een in Saru se gestoeltes wat die aanstellings maak.

So wat verwag ons?

Krisisbestuur sien ons nou oral in ons rugby en dit maak van ons nasionale opset ’n verwese spulletjie.

Ergste is: Allister Coetzee is vasgevang in dáárdie krisisse. Hy wil anders speel, en hy ondersteun daardie visie van ’n andersheid deur anders te kies. Maar als stotter op die speelveld.

Warren Whiteley, Faf de Klerk en Elton Jantjies kán nie staties speel nie. Hulle speel met momentum, met go-forward-ball. Dis wat van hulle spesiale spelers maak.

As jy by die afbreekpunte vertraagde besit kry, is dit nag. Dit maak jou staties, jy speel teen ’n muur van verdedigers wat opgestel is om jou af te maai.

Coetzee se hunkering om meer aanvallend en effektief met die bal in die hand te speel, bly gevolglik net ’n hunkering. Onsigbaar.

Teen Ierland het die Bokke 148 keer die bal aangegee per toets. Teen die Poemas het dit tot 95 per toets gekrimp. Teen Ierland het die Bokke bykans 110 keer die bal gedra. Teen die Poemas het dit ook gekrimp tot 81 keer. Die Bokke het selfs teen die Poemas meer geskop as teen Ierland.

En gister teen die Aussies is daar selfs nog meer geskop. En selfs nóg vrotter.

Waarheen is Coetzee dus op pad?

Is die Bokke die slagoffers van ons tref-en-trap-manier van dinge doen?

Soos: 13 binne- en buitesenters in ses jaar van toetsrugby. 18 senter-kombinasies ook in dié tyd.

Tref-en-trap Coetzee nou maar weer met Juan de Jongh as sy “vernuwende” keuse wat inspirasie moet gee ten koste van die proposisie om in Rohan Janse van Rensburg ’n X-faktor bloot te lê?

Dis De Jongh se eerste toets in vier jaar nadat hy in 2009 Springbok geword het. Sy sentermaats toentertyd was Jean de Villiers (binne), Jaque Fourie (buite), Adi Jacobs (buite) en Wynand Olivier (binne). Ja, Jacobs en Olivier se tyd !

In 2010 het die Bokke vyf senters in vyf verskillende kombinasies in die toetse gebruik.

De Jongh het vier verskillende sentermaats gehad en twee keer binne- en twee keer buitesenter gespeel.

In 2011 is weer van vyf senters gebruik gemaak in drie kombinasies. De Jongh het een keer as buitesenter saam met Olivier gespeel en in sy ander toets as binnesenter saam met Jacobs.

In 2012 was daar weer vyf senters in vier kombinasies. De Jongh se twee toetse was as buitesenter, met De Villiers die binnesenter.

2013 was die mees stabiele jaar van die senters, met JJ Engelbrecht en De Villiers wat in nege toetse saam gespeel het, en Fourie en De Villiers in die ander drie toetse.

Van 2013 tot nou toe was daar die senterpare van Damian de Allende/De Villiers (2); Jan Serfontein/De Villiers (8); JP Pietersen/Serfontein (1); De Villiers/De Allende (3); Jesse Kriel/De Allende (8); Lionel Mapoe/De Allende (5) en gister s’n van Kriel/De Jongh.

Gee Coetzee vir ons dus maar net meer van dieselfde¬– meer tref-en-trap-bloedkolle?

’n Hele sestal senters, Jaco Taute, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, De Allende, Mapoe en Kriel het onder De Villiers, Meyer en Coetzee almal toets-Bokke geword.

De Jongh wás baie goed. Hy’s nie meer nie.

Só gee ons een tree vorentoe en twee treë terugwaarts!

Meer oor:  Bokkie Gerber  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.